Okei
It's been a weird week. Ek het hierdie week sóveel keer vir Johan gesê: "Ek is só gatvol daarvoor om nie okei te wees nie!" Ek is moeg daarvoor om die heeltyd te huil terwyl hy die heeltyd moet sterk wees. Ek mis die mens wie ek was voor die hele storie met J.G. begin het. Die een wie altyd haarself kon optel en afstof. Wie by uitsonderlike gevalle toegelaat het dat sy breek en toenadering soek. Ek mis haar.
Ons is in overdrive om alles afgehandel te kry voor J.G. oorsee moet gaan. Gooi gou daarby 'n verkoue vir J.G. in wat beteken dat hy vir twee aande Johan se plek neem en by my in die bed slaap; min slaap om vyf-uur in die oggend te cue by Binnelandse Sake; planne verander om J.G. te akkommodeer omdat die heen-en-weer tussen my en Pappa hom bietjie emosioneel het by tye; Mamma ontwikkel 'n baie ongemaklike toestand op 'n Vrydagmiddag wat haar die heel naweek in en uit consciousness het vanweë pynpille (dankie tóg J.G. was by Pappa) en laaste, maar nie die minste, 'n besigheidsbestuur-taak wat om middernag ingedien moet word want, ja, Johan loop na-ure nog kursus ook.
Dit voel asof ons mekaar weke laas gesien het al bly ons in dieselfde huis. En terwyl ek skryf, dans daar 'n tevrede glimlag oor my gesig omdat ek weet dit is alles tydelik. 'n Jaar of wat gelede sou hierdie gevoel my heeltemal uitgefreak het. Ons moet 'n balans vind. Ons moet tyd maak. Ons moet later gaan slaap of vroeër opstaan. Ons moet prioritiseer.
Ons moet niks.
Ons doen presies wat ons moet doen met die tyd wat ons het. 'n Siek lyfie voel veilig en versorg vir die twee aande wat hy langs Mamma kan slaap. 'n Oormoeg mamma word gedwing om 'n hele naweek lank te rus terwyl Johan die sosiale rondtes kan doen en verseker hy kom namens ons uit by daai belangrike familie-geleentheid waarheen ons genooi is - en sommer ook 'n slag 'n welverdiende 'n break kry. J.G. is gerus in die wete dat, terwyl hy nog in "Sauff Africa" is, hy maar vir Pappa kan sê as hy wil terugkom huis toe, en Mamma en Oom Johan sal hom gaan haal. Vyfuur by Binnelandse Sake beteken eerste in die ry vir daai paspoort. En hier sit ek, doodrustig oorkant Johan in ons heerlike sitkamertjie waar ek vir hom koffie kan aandra terwyl hy sy taak afhandel met enkele minute voor die spertyd. Ons👏moet👏niks.
Want oor twee weke is daar een-honderd-vier-en-vyftig dinge minder om te balanseer. Oor twee weke gaan ons net mekaar hê om die tyd mee te vul. Ons gaan die stiltes haat en die gejaag mis. Ons gaan mekaar vind in 'n nuwe ritme en van vooraf daarby aanpas. En die verlange wat ek nou na Johan het, die behoefte om net vir 'n paar minute stil te word en mekaar raak te sien, gaan 'n ander vorm van verlange word. Een wat ek nog nie heeltemal seker is ek voor gereed is nie.
Ek weet ek gaan waarskynlik vir 'n hele rukkie nog nie okei wees nie. Maar ek is okei daarmee, omdat die een saam met wie ek nie okei is nie, okei genoeg is vir ons albei.
L
Comments