top of page

To-Do

Eendag lank, lank gelede was daar ‘n klein dogtertjie met blonde hare, potblou oë en die grootste lag wat jy in jou lewe al gehoor het. Die lewe was eenvoudig. TV games was lekker, Britney was alles en skoolwerk was maklik. Haar wêreld was klein, en haar drome daarom net so groot soos die ceiling van haar realiteit. Soos vir alle dinge in haar lewe, het sy ‘n lysie gehad:


1. Doen goed op skool

2. Kry eerste soen voor 14

3. Kry ‘n werk wat jou by die huis hou

4. Ontmoet jou trouman

5. Word ‘n Mamma


Die lysie was nie groot nie, maar dit was bereikbaar. Sy het ook nie weer iets anders bygevoeg nie. Sy het nie gevoel dit is nodig nie. Sy het nie gedroom oor reis of baie geld of roem nie. Sy het nie gedroom oor fancy beroepe nie. Sy het gedroom binne die scope van dit wat sy geken het en sy was dood tevrede met haar lysie.


Dit was eers gedurende haar vroeë tienerjare, toe sy ‘n aarbeidsterapeut moes sien (as sy tog net kon ophou om haar naels te kou!) wat sy besef het dat daar meer beroepe daar buite is as huisvrou speel en juffrou wees. Dit was tydens daardie ongemaklike sessie toe sy vir die fancy tannie moes vertel wat haar bang of skaam of hartseer maak, wat sy besef het dat sy ook ‘n fancy beroep wil hê. Maar nie die ene nie. Want die ene vra moeilike vrae aan kinders wie altyd graag die regte antwoord wil gee, maar nou nie weet wat om te sê nie. Die beroep maak kinders bang omdat hulle nie weet wie hulle in die moeilikheid gaan bring as hulle eerlik is nie. Hy maak kinders skaam omdat hulle met ‘n mond vol tande sit terwyl die tannie sit en wag vir ‘n reaksie. Die beroep maak kinders hartseer omdat hulle weet Mamma is bekommerd oor die naelkouery, maar hulle nie weet hoe om minder angstig te wees nie. So nie hierdie beroep nie, maar defnitief iets in hierdie lyn.


Daar was toe in ‘n stadium ‘n tannie op die dorp wat so paar huise van hulle af massages en facials gegee het. Sy het by die tannie geleer waar om op haar slape te druk wanneer sy ‘n migraine kry, en sy het geleer waar om op die skouers te vryf en hoe om hande te masseer. Sy het aanklank gevind by hierdie beroep, maar gevind dat die geld nie so goed is soos in die beroep wat kinders ongemaklik maak nie. “Word ‘n fisioterapeut”, het die tannie gesê. “Jy kan massages gee, én die geld is goed!”

En net daar, op die ouderdom van twaalf, het haar wêreld skielik groter geword. Sy het geen idee gehad wat “swot” behels nie. Sy het nie geweet of dit ooit gaan realiseer nie, maar sy het daardie dag besluit dat al haar skoolwerk nou gedoen sou word met ‘n mediese graad ingedagte. Kyk, ek glo vas in die butterfly effect. Ek glo dat die kleinste besluit bepaal hoe jou lewe uitdraai. En ek glo vas dat daardie dogtertjie vandag is waar sy is omdat sy op ‘n dag saam met haar ma gegaan het na ‘n tannie wat massages gee op ‘n dorpie van ongeveer 150 mense, en dat daardie tannie onwetend die hele koers van haar lewe verander het.


Waar is daardie dogtertjie vandag? Daardie dogtertjie is vandag ‘n senior regssekretaresse. Sy verdien nie die geld van ‘n fisioterapeut nie, maar sy verdien genoeg geld om gemaklik te lewe. Sy staan op trou met ‘n man wat noukeurig gevorm is om perfek by haar te pas – die enigste een wie nog ooit geweet het hoe om haar reg lief te hê, en sy is ‘n mamma van ‘n pragtige seuntjie.


Die lysie van destyds het nou regmerkies langs elke item. Hier en daar is oor iets geskribbel. Hier en daar lê ‘n laatnag koffievlek op die papiertjie van toe sy gecram het vir daai Fisiologie final, nog sterk oppad na daai mediese graad. Plek-plek is daar klein bloedspatseltjies van daai kere toe sy verkeerde besluite geneem het en gedink het hy is “Die Een”. Hier en daar het die papiertjie al gate in waar trane geval het elke keer wanneer sy langs haar seuntjie se hospitaalbed moes sit, of hom op die lughawe moes groet sodat hy gesond kan gaan word op ‘n ander kontinent. Die papiertjie lyk gehawend, maar die lysie is afgetick – elke liewe item. En sy is gelukkig.


Want so ‘n jaar en ‘n half gelede het sy vir die laaste keer die vierde item op haar lysie afgetick. En met die regmerkie het sy vir die eerste keer opgemerk dat die papiertjie bietjie groter is as wat hy aanvanklik gelyk het. En daar het skielik ‘n hele nuwe deel op die papier sigbaar geword wat onaangeraak is. Skoon. Geen penmerke, geen bloedmerke, geen gate. ‘n Deel wat sy nou gebruik om verder te droom.


En wanneer sy na nóg 35 jaar gaan terugkyk, gaan hierdie deel van die papier oortrek wees met paspoort-stempels, wedding vows en kleinkinder-name.


  • J.G. se afspraak by neuroloog op 7 Augustus 2023

  • Bespreek J.G. se pad vorentoe na afloop van sy afspraak

  • Vier J.G. se eerste verjaarsdag terug in Suid Afrika

  • Trou met Johan

  • Koop ‘n huis

  • Vier die tweeling se eerste dag in die hoërskool

  • Eerste crush (drie kinders)

  • Eerste mislukte verhoudings (drie kinders, eeeeek!)

  • Eerste bestuurslesse

  • Reis oorsee (Johan wil vir jou Switzerland wys)

  • Vier die firma se 20ste bestaansjaar

  • Bederf jou kleinkinders


L

Let me know what's on your mind

Thanks for submitting!

© 2035 by Turning Heads. Powered and secured by Wix

bottom of page