top of page

Afstand

Elke Sondag wanneer ek in die kar moet klim om terug te kom. Wanneer ek in die spaarkamer op my hande en knieë gaan om JG se speelgoed bymekaar te maak sodat jy nie sien ek huil nie. Want dit is nie net vir my moeilik nie. Wanneer ek my pienk toiletry sakkie pak - die een waaruit ek nou al die laaste sewe maande leef selfs al is ek by my eie plek, want ek sweer ek sal hom eers uitpak die dag wanneer ek en JG finaal huis toe kom.


Herinneringe aan jou tref my elke paar minute soos 'n vuishou in die maag. Wanneer ek in my kamer stap en jou halfgedrinkte glas water nog op die bedkassie staan waar jy hom gelos het toe jy vir my kom kuier het. Wanneer ek my tas uitpak om klere te was en my tank tops oortrek is met hondehare omdat KitKat op die bank in my arms aan die slaapgeraak het, terwyl ek onder jou arm aan die slaap geraak het gedurende een van die minder opwindende rugby games (ek moet dalk minder aan die slaap raak en meer aandag gee, dan sal ek nie so ver val in ons Superbru pool nie.)


Jy is hier wanneer JG met sy unicorn by my op die bank kom lê en movies kyk en ek dan onthou hoe jy hom én sy unicorn net vanoggend nog al dans-dans sitkamer toe gedra het nadat hy by ons in die bed kom klim het - hy lyk altyd so veilig in jou arms.


Ek onthou oomblike soos vanmiddag toe jy vir JG optel om te wys hoe 'n skoenlapper uit sy koekon klim. En hoe JG my dan opgewonde wys wat hy by jou geleer het en, terwyl ek kyk, my nader aan julle trek sodat ons in daai oomblik die woord "gesin" perfek definieer. Dit is ook dán wanneer ek weer besef hoe bittersoet die oomblik is en ek pynlik bewus raak van die afwesigheid van die res van ons gesin. Myne. Joune. Ons s'n.


Om hier te wees sonder jou voel soos om te lewe met 'n amputasie. Ek beweeg anders. Ek hoor anders. Ek vat langer om dinge te doen. Ek kyk deur ou foto's en lees deur ons eerste Whatsapp gesprekke. Ek hou vas aan oomblike wat ure terug nog realiteit was. Dinge wat jy vir my gesê het. Kyke wat jy vir my gegee het. Dit alles speel ek oor en oor in my kop terwyl ek op die bank lê met 'n koppie koffie (soos jy dit maak) met die hoop dat dit my sal hou tot ons mekaar weer sien.


Ek tel die slapies.


L

Comments


bottom of page