top of page

Amputasie

Ek wil net een dag kan slaap tot ek self wakker word, en dan omdraai en verder slaap tot ek die hele dag gemors het.


Ek wil weet hoe dit voel om huis toe te kom na werk en doodeenvoudig neer te plons op die bank met geen gevoel van skuld omdat daar eers gespeel moet word nie. O, en kos. En huiswerk. En badtyd.


Hoe voel dit om lang pad te kan ry sonder om elke twee minute te moet hoor hoe lank die pad is en hoe ongemaklik die kar stoeltjie is?


Waar kry mens sorgvrye naweke wat nie gevul is met chaos en kinderstemmetjies en raas oor taai vingermerke en tande kners oor oormoeg kleuters, terwyl jy so graag net een ononderbroke gesprek wil voer.


Is daar 'n tyd wanneer Paw Patrol en Power Rangers nie die default program op ons televisie gaan wees nie en ons weer sal kan saam gesels wanneer mense praat oor binge watching. Wat is binge watching?


Is 2am nagte met 'n lelike hoes nou maar eenmaal deel van grootword en iets wat altyd 'n Mamma se nagte met angs gaan vul al is ons al negehonderd keer hierdeur? Hoe lekker sal dit nie wees om soggens klaar te maak vir werk sonder dat jy ses van die agt ure wakker was en ruik soos suur melk nie?


Is daar 'n dag wanneer ek in die winkels sal kan rondloop sonder om een keer te hoef baklei oor soetgoed of speelgoed of niks in besonder net omdat ons oormoeg is nie?


Hoe wonderlik sal dit nie wees om een aand die kneusplekke van kniekop- en elmboog-speel te kan verruil vir 'n gesigmasker en 'n warm koppie koffie nie.

.

.

.

Oor drie slapies word 'n stuk van my hart uit my lyf geruk en op 'n vliegtuig geplaas vir 'n onbekende tydperk en ek sal nooit aan hom kan verduidelik hoekom ek nie kan saamgaan nie. Die stuk van my hart wat my bene laat beweeg en my borskas laat asemhaal.

Die stuk van my hart wat verantwoordelik is vir elke vorm van ongemak wat ek vir maande nie meer gaan beleef nie.



So gee my die bloukolle. Gee my die koue koffie. Speel Paw Patrol op repeat en kom vat my kombuiskaste vuil.


Want ek wil nie gemaklik wees as gemak beteken dat my hart geamputeer word nie.


L


Comments


bottom of page