Een omwenteling
Ek sal seker ná vandag minder sentimenteel begin word. My gevoelens was nog altyd te groot vir my lyf en ek moet gereeld plek maak vir nuwes. Ek word maklik oorweldig deur my emosies, en die enigste manier vir my om uitlating te gee daaraan is om bietjie te huil en die spreekwoordelike pen en papier nader te trek.
Ek en jy vier die begin van ons verhouding jaarliks op die dag toe paaie gekruis het - al was dit virtueel. Maar vandag is vir my ewe (dalk méér) spesiaal omdat dit die dag is toe ek jou vir die eerste keer kon vashou. Jou kon ruik. Die plooitjies om jou oë kon sien wanneer jy na my kyk en uiteindelik kon bevestig dat jou drukkies wél die wêreld 'n beter plek maak.
Ons het uitgesien na vandag ('n jaar gelede) met meer opwinding as wat ek in my hele lewe nog beleef het. Vir my was die opwinding gemeng met afwagting en 'n klein bietjie vrees. Vrees dat die sprokie, wat my lewe was vir die week voor ons fisiese ontmoeting, sou doodloop. Vrees dat iets so perfek soos ek en jy te goed is om waar te wees. Vrees dat jy een kyk na my sou gee, in jou kar sou klim en terugry huis toe.
Maar jy het, soos net jy kan, my met die eerste oogopslag laat verstaan dat my hart veilig is by jou. Ons ontmoeting was soos 'n kollosale botsing met trefkrag wat, ek sweer, in 'n ander heelal gevoel kon word. Ek onthou 'n "hallo" en dalk 'n "verskoon my hare, die wind is rof" voor jy my net daar langs jou kar in jou arms geneem het en ons onsself kon oorgegee aan, wat gevoel het soos, 'n leeftyd se wag. Ek onthou wat jy aangehad het. Ek onthou hoe jy geruik het. Ek onthou hoe laag die son gesit het en ek onthou hoe blou jou oë was. Ek onthou hoe geen bos bomme óóit weer sou kon kersvashou met die Proteas wat jy vir my gebring het nie.
Ek het gister gevind dat ek oorval was met emosie en nostalgie. Gemengde gevoelens, sommige wat ek nie kon identifiseer nie, in oploop tot vandag. Ek het probeer om dit aan jou te verduidelik omdat jy bekommerd was oor my, en die enigste emosie wat ek kon uitmaak was "ek voel dankbaar". Ek het dit verder probeer analiseer en het tot die slotsom gekom dat ek gister die presiese afwagting en oppervlakkige vrese beleef (onthou?) het wat ek 'n jaar terug gevoel het, maar dat dit nou ook gepaard gaan met dankbaarheid vir die alles wat jy in die laaste jaar tot my lewe gevoeg het. En vir 'n oomblik was ek weer Lynette vóór jy my lewe onherroeplik verander het en ek was weer, in die oomblik, bang dat ek en jy te goed is om waar te wees.
Maar dan raak ek bewus van jou hand in myne en word ek teruggedruk na my heerlike realiteit waar ons reeds ontmoet het en jy een jaar later nogsteeds elke dag vir my laat verstaan hoe veilig ek is by jou.
En dan, soos elke keer wanneer ek nie kan sinmaak van my emosies nie, neem jy my in jou arms en is die wêreld soos ek dit ken 'n beter plek.
L
Comments