top of page

Face off

"Moenie jou lewe vergelyk met iemand se fotos op sosiale media nie. Dit wys net die highlights. Net die goeie tye. Dit is onakkuraat."


"Het sy rêrig sopas 'n post gemaak oor hoe moeilik dinge gaan? Ugh! Sy is só aandag-soekerig!"


***

Mens kannie wen as dit kom by internet-trolle nie. My lewe was nog altyd 'n oop boek. Op sosiale media en weg van sosiale media. Hoekom? Hoekom my lewe neerpen vir die wêreld om te sien (as die wêreld bestaan uit die honderd-sewe-en-tagtig Facebook "friends", drie-honderd-en-tien Instagram followers en die handjievol mense wie my blog volg)?


Vir een rede - omdat 'n vreemdeling eendag haar storie op sosiale media gedeel het en ek aanklank by dit gevind het. Sóveel so dat ek haar lewe begin volg het en deur baie donker tye gekom het net omdat ek geweet het ek is nie alleen nie. Omdat my storie nét dalk iemand anders se storie is en omdat ons almal iemand nodig het wie verstaan.


Vandag was 'n goeie dag. Meeste dae is goeie dae. Afgesien van die onwillekeurige trane wanneer realiteit vir 'n oomblik skelm in my kop kom nesskop. Ek het lank uitgesien na vannaand. My en Johan se eerste fondsinsameling-dans hierdie jaar. Opdress en wyn drink. Handvashou en lag. Dis moeilik om deesdae die balans te vind tussen die break soek wat alle ouers elke nou en dan nodig het en die heeltyd vir J.G. by ons te wil hê omdat hy binnekort weggaan. Maar ek was opgewonde om vannaand te kuier saam met 'n tafel vol van ons naaste vriende. Ek het 'n nuwe rok gaan koop. Nuwe rooi lipstick. Nuwe skoene. Veertig minute aan my hare spandeer. En toe, enkele minute nadat ons by die funksie aangekom het, tref dit my soos 'n vuis in die maag - ek wil nie hier wees nie.


Ek sukkel om 'n gesig op te sit en saam te lag. Ek sukkel om geselsies aan te knoop en die musiek te geniet. Nie omdat ek depressief is nie, maar omdat ek moeg is. Omdat my kop nie wil ophou dink aan die Goort Groet wat kom nie. Omdat ek in daardie oomblik nêrens anders wou wees as in my stil sitkamer met sy sagte lig en die reuk van koffie terwyl Johan my vashou nie.


Dit het my onkant gevang. Ek was bang. Bang dat my nou-en-dan "dips" druk gaan plaas op my en Johan se verhouding (hy raps my nou oor die spreekwoordelike vingers soos ek dit skryf - hy is werklik so 'n rots). Een van my gunstelling skrywers het dit nou die dag só mooi gestel - "I feel like the ghost of myself". En ek is só bang omdat ek gereeld vergeet wie ek is, dat Johan ook gaan vergeet wie ek is. Dat hy my gaan begin sien as die persoon wie ek geword het gedurende hierdie tyd in ons lewe. Iemand wie by tye net oorleef. Ek het my vrese met hom gedeel en hy het hulle almal natuurlik baie vinnig stilgemaak. Ek weet hy staan bankvas langs my. En ek is dankbaar. Ek is so ongoddelik dankbaar vir die anker wat ek het in hom.


Want meeste van die tyd is ek okei. Beter as okei. Maar dan is daar die aande wanneer ek met vars make up in my pajamas sit en huil omdat my kakebene net nie langer die gewig van my opgeplakte smile kon dra nie en Johan my moes huis toe bring sodat ek in vrede kon breek.


L

Comments


bottom of page