Hey, Siri
Hey, Siri,
Please provide some coping mechanisms for when a child moves away from home.
…
Here are some suggestions for “Please provide some coping mechanisms for when a child moves away from home”:
“Living away from your child: 10 ways to cope”
“How to cope with your child moving away from home”
“5 ways to cope with Empty Nest Syndrome”
Siri sê vir my ek moet gaaf wees met myself en myself vergewe. Ek moet die situasie waarin ek is aanvaar. Ek moet fokus op die positiewe vir my asook vir J.G. Ek moet ondersteuning soek en opwindende maniere vind om met J.G. te kommunikeer. Ek en Johan moet vanvooraf “reconnect”.
Og! Siri is so slim! Siri weet alles!
Dit was vir my nog nooit vreemd om op onverwagse tye te huil nie. Ek is ‘n groot huiler. Vir enig iets. As jy nou vir my die advertensie wys van die seuntjie wie op sy tone staan op die pak Mondi papiere om by die printer uit te kom sodat hy ‘n hartjie kan print terwyl Louis Amstrong What a Wonderful World sing, gaan ek ugly cry. As Johan my nou op kantoor moet vra om iets buite die gewone scope van my werksverpligtinge te doen op die besigste tyd in die maand, gaan ek in trane uitbars. Gaan ek die knop in my keel moet sluk as ek verby ‘n straatbrak ry? Verseker! Dit👏🏻vat👏🏻nie👏🏻baie👏🏻nie. Dit het nog nooit nie.
Maar die laaste maand of twee het my emosionele sluise my so verraai dat ek en Johan vir amper ‘n volle week elke liewe swangerskaptoets op die rak gedoen het! Soveel so dat ons begin opgewonde raak het oor die moontlikheid van nóg ‘n pienkvoet. Soveel so dat toe dit uitdraai om negatief te wees, ek ook dáároor ge-ugly cry het! En ons beplan nie eens nog ene nie!
Ek het met my ma gesels om uit te vind of ek moontlik pre-menopausal kan wees. Ek moet gereeld myself herinner dat ek nie vir ewig ses-en-twintig gaan wees nie en dat terme soos anti-aging cream en menopause my realiteit geword het. Ja, sê Ma. Dit klink beslis vir my na hormone.
Right – Liefling, dit is tyd vir ‘n behoorlike mediese fonds. Ek moet ‘n ginekoloog sien. Ek kannie so aansukkel nie. Ek het kansgesien vir die een-nagmerrie-week-in-die-maand, maar dit is nou al twee maande en ek is bang jou geduld met my raak op. Hemel - kan ek ook net gou stilstaan en hier op my deeltjie van die internet tyd afstaan om te probeer verduidelik hoe ongoddelik dankbaar ek vir Johan is?! Ek weet wraggies nie waar hy die geduld kry om my stukkend elke keer aanmekaar te sit nie. As die rolle omgeruil was sou ek elke dag op eiers geloop het – bang vir die volgende breakdown. Ek sou ongesond verlig wees as ek sien ons het ‘n goeie dag. Niemand wil tog so lewe nie!! En tog doen hy. Tog bly hy geanker en staan hy sonder vrees of oordeel langs my. As hy geweet het dit gaan vir my so moeilik wees, sou hy kansgesien het vir die uitdaging? Ek weet hy sou, want hy is nie van hierdie wêreld nie. As sy beste maatjie wil ek gereeld vir hom sê: “Hardloop, tjom! Hardloop vêr weg – die girl is TE emosioneel!”, maar as sy meisie is ek so bitter, bitter dankbaar dat ek doodeenvoudig my breek kan breek sonder om bang te wees dat ek na die tyd gaan moet omverskoning vra of hom iets gaan skuld. Dit haal die angs uit die uitmekaarval. Dit verander ALLES!
Anyway, so het ek nou al die laaste paar weke meer as ‘n dosyn keer voor die uitdaging te staan gekom – waarom val ek so maklik uitmekaar? Waarom raak ek so gou geirriteerd tot op die punt waar dit elke keer oorgaan in trane? Waarom ontstel die geringste ding my só dat ek ‘n paniekaanval kry? Elke keer sê Johan vir my: “Jy gaan deur iets moeilik – gee jouself grace” en dan dink ek “Vir hoe lank?!” Vir hoe lank gaan ek my shit verloor as iemand iets voorstel wat ek nie beplan het nie en ek nou moet inval by iets waarvoor ek nie myself voorberei het nie? Ek is tog ‘n impulsiewe mens? Hoeveel keer gaan ek nog in trane uitbars as ek nodig het om vasgehou te word, maar Johan is gou winkel toe en nou moet ek vyftien minute wag? Hoeveel keer gaan ek nog kwaad word as ek ‘n oproep moet neem by die kantoor en dan verskil met die persoon aan die ander kant tot op die punt waar ek die foon neersit en in trane uitbars? Dit is mos nie normaal nie.
En soos elke liewe keer bereik ek 'n punt waar ek tyd moet neem om my emosies te analiseer sodat ek nie myself malmaak omdat ek nie weet wat fout is met my nie. En daardie punt was gisteraand.
Ek het hierdie week breekpunt bereik. Ek het al baie keer vantevore breekpunt bereik, so ek ken die tekens. Dit word gekenmerk deur ‘n dag wat ek totaal en al afskryf aan ugly cry, slaap, by myself wees, gevolg deur ‘n oomblik van beheer neem, opstaan, afskud en vanvooraf begin. Vir my was dit verlede week toe ek Dinsdagoggend met dikgehuilde oë opgestaan het en die skielike behoefte gehad het om my vitamines te begin drink en op te hou het om my naels te kou. Ek het lysies in my kop gehad oor hoe om gawer met myself te wees en te probeer om Johan beter voor te berei vir wanneer ek gaan huil. Ek het beheer teruggeneem.
Dit was ‘n goeie week ná Dinsdag. Ek kon emigrasie-administrasie uitsorteer, en oproepe met JG was goed. Ek het ‘n swak oomblik gehad Vrydag net voor huistoegaan tyd, en het by die huis weer vir Johan omverskoning gevra omdat ek regtig nie geweet het hoekom ek huil nie. Saterdag en Sondag was sonder trane en gister was weer moeilik. Baie moeilik. Johan het rondom 3pm net voor huistoegaantyd voorgestel ons gaan doen ‘n 10km stappie ná werk, en ek was so uit die veld geslaan met die “onredelike” voorstel dat ek begin huil het. What the hell, Lynette?!
So gisteraand teen slaaptyd lê en gesels ek en Johan oor die firma se vooruitsigte en die tyd van die maand waarin ons tans is, wanneer dinge maar oor die algemeen bietjie meer tense is as gewoonlik, en ons sê nag vir mekaar. Ek lê en rol rond oor alles wat ek nog moet doen voor die 30ste en daar begin ek skielik huil. Saggies. Ek wil nie vir Johan ontstel nie en ek is bang hy dink dis iets wat hy gedoen het. Die keer gaan ek alleen huil want die hemel weet g'n mens kan soveel keer troos nie! Ek het opgestaan en my kamerjas aangetrek en sitkamer toe gegaan. Ek is okei – ek verlang net vir J.G. Slaap verder my skat.
Ek het op die bank gaan sit en so sag soos ek moontlik kon my hart uitgehuil. En ek kon voel, soos elke ander keer, dat daar so baie residual trane was wat moes uitkom. Trane wat alles en niks te doen het met die werk of verlede week se voorstel om 10km te gaan stap, of die storie wat ons vroeër gekyk het, of twee weke terug se planne wat verander het nie. Dit was trane oor J.G. En toe tref dit my soos ‘n groot emmer water tussen my oë! Ek kon uiteindelik die oorsaak van my ineenstortings visualiseer.
Sien, sodra ek die oorsaak van my kwale verstaan, plaas dit my in ‘n posisie van beheer. Dit is waarom dit vir my so belangrik is om te weet waarom ek voel soos ek voel. Dit is waarom dit vir my belangrik is om dokter toe te gaan wanneer ek siek is – ek moet weet hoe om die simptome te behandel. Dit is waarom dit vir my belangrik is om duidelike instruksies by my prinsipaal te kry – ek moet weet wat van my verwag word. Ek het in alle aspekte van my lewe nodig om te weet waar ek my bevind, sodat ek kan weet waarheen ek oppad is. So gisteraand het die volgende prentjie hom tuisgemaak in my kop:
Verbeel jou jy is ‘n fles en jy is gemaak uit iets breekbaar soos glas of porselein. Jy is heel. Daar is dalk hier en daar ‘n stampie, maar geen krake. Dan gebeur die lewe. Jy stres. Jy raak hartseer. Jy raak geirriteerd. En met elke negatiewe emosie vorm ‘n kraak in jou menswees – in die fles. Hierdie tipe krake kan met die regte ondersteuning en liefde of positiewe omstandighede opgevul word. Kleiner word. Weggaan. Maar elke keer wanneer jy meer van hierdie negatiewe emosies beleef raak die kraak groter of dieper totdat jy op die punt kom waar die fles breek. Deur my lewe het ek al baie breekpunt bereik. Ek was elke keer die een (soms met die hulp van my ma of my sussie) wie die stukke opgetel het en myself weer aanmekaar gesit het. Hier en daar kon ek dit regkry om myself weer basies kraakvry te kry, maar dit was eers toe ek Johan ontmoet het wat ek ‘n punt bereik het waar ek een honderd present heel kon word.
Wat ek egter gisteraand besef het is dat JG se afwesigheid in ons lewe my verander het in iemand met ‘n permanente, massiewe kraak. ‘n Kraak so groot dat die kleinste stampie die fles breek. In die verlede sou ‘n irritasie of hartseer nuus of ‘n frustrasie bloot veroorsaak het dat krakies in my begin vorm, of dat die klein krakies wat reeds daar was dalk bietjie groter raak, maar dit sou my nie breek nie. Die krake sou dan ook mettertyd weer kleiner raak of weggaan. Maar met die massiewe kraak wat JG se afwesigheid permanent in my laat, breek ek met elke klein irritasie. Elke klein bietjie hartseer. Elke klein bietjie werkspanning. Elke liewe keer.
Ek weet nou dat my fles in 'n pemanente toestand is van op-die-punt-om-te-breek, en ek kan nou uiteindelik werk daaraan om maniere te vind saam met die kraak te leef.
Ek is verlig. Ek kan ophou om die fout te soek by myself. Ek kan ophou om bang te wees dat ek dalk depressief is en ek kan ophou angstig wees dat ek dalk beisg is om histeries te raak. Ek weet vir meeste mense sou hierdie dalk die mees voor die hand liggende afleiding wees om te maak – jy mis jou kind. Maar vir my het dit net nie so eenvoudig gelyk nie. Ek was onder die indruk dat ek teen die tyd al sou aanpas. Maar ek het nie. En ek gaan dalk nooit nie. En dit is okei.
Want ek weet nou waarvoor om uit te kyk. En ek weet nou dat ek nie so hard hoef te wees op myself nie. En ek weet ook dat ek in die bevoorregte posisie is om iemand te hê wie elke keer my stukke sal optel en aanmekaar sal sit totdat al die krakies weer weg is. Almal behalwe een. En ek weet dat hy my liefhet ten spyte van die groot kraak in my menswees en dat hy gereed is vir elke liewe keer wanneer ‘n klippie my tref.
As jy dalk vind dat jy heeltyd, sonder waarskuwing, uitmekaar val - kyk of jy dalk ook 'n groot kraak in jou menswees kan identifiseer en probeer om jouself meer grace te gee.
***
Hey, Siri, how do you fix a crack in a soul?
No results found.
Miskien weet Siri tog nie alles nie.
L
Comments