top of page

Life lately

Dis 01:05am. Ek sukkel om aan die slaap te raak. Net ses ure gelede het ek gefight om wakker te bly op my lash tech se tafel, en nou? Ag, ek belowe ook nou al meer as 'n week 'n update en siende dat Klaas Vakie besluit het om my vannaand oor te sien, kan ek seker die tyd gebruik om bietjie op te vang, of hoe?


Dit gaan goed, dankie. Beter as goed. Met ons almal. J.G. is gelukkig in Spanje en dit maak ons rustig. Hy sosialiseer met kinders van sy ouderdom by die parkie naby hulle nuwe huis. Hy rits oral rond saam met sy Pa-hulle. Hy eet nuwe kosse. Leer ken nuwe mense. Hy is opgewonde oor die nuwe huis waarheen hulle getrek het want mens kan die see van die balkon af sien. Hy is gelukkig. Ons is in die proses om sy burgerskap te finaliseer waarna hy na 'n skool sal kan gaan en met konsultasies kan begin.

Ons is ook gelukkig. Ek dink ek kan dit sê? Mense sê vir my ek mag. Eenvoudig gestel is elke dag 'n goeie dag en daar is oomblike gedurende die dag wat moeilik is. Soms gaan ek tot twee of drie dae sonder 'n moeilike oomblik. Ek laat myself nie toe om te lank stil te staan by J.G. se afwesigheid in ons lewe nie. Johan moedig my altyd aan om teenwoordig te bly. "Moenie laat jou gedagtes wander nie". Dit help. Ons het 'n sosiale lewe en ons maak baie tyd vir mekaar. Soms oorweldig die verlange my onverwags en dan moet ek 'n kuier kortknip sodat ek by die huis kan kom huil, en ander kere sien ek net nie kans om die veiligheid van ons sitkamer te verruil vir klomp laggende mense nie. Maar meestal cope ons baie goed. Ons kom baie uit. Ons lewe!


Dis 'n vreemde plek om te wees. Die hartseer wat mens so onverwags bekruip. Die een oomblik sit ek oor middagete met toe oë en 'n koppie koffie op ons rusbank en glimlag oor hoe veilig en gelukkig ons huisie my laat voel, en die volgende oomblik vang my oog die foto waar J.G. en Johan met 'n lama stap. En dan wil ek dinge doen met J.G. Ek wil hom oor naweke na lekker plekke neem. Ek wil dinge met hom deel. Ek wil sy hand vashou terwyl hy roomys eet. En ek kannie. Al wat ek kan doen is huil tot die ergste moedeloosheid oorwaai en ek weer terug kan klim op die pad na gelukkig wees.


Ek is nogsteeds elke keer angstig om met J.G. te gesels wanneer hy video call. Angstig dat hy homesick gaan wees en ek niks gaan kan doen om hom te troos nie. Angstig dat hy gaan sê hy mis my en ek 'n brawe gesiggie gaan moet opsit terwyl die naar in my keel opstoot. Ons het genadiglik nog nie een tranerige gesprek gehad nie. Daar was 'n bietjie van 'n bewe-lippie toe hy een van die honde sien, maar dit was dit. Johan is wonderlik met die lang afstand oproepe. Hy is kreatief en vrolik en hy leer my hoe om J.G. deel te maak van ons daaglikse roetine wanneer ons gesels. Ons vang op en ons speel en hy wys vir ons nuwe tricks wat hy geleer het. Daar gaan soms tot 10 minute verby waar niemand gesels nie en J.G. iewers in hulle nuwe huis rondloop opsoek na speelgoed wat hy vir ons wil wys, of hy vir ons wegkruip. Ons speel "make-believe catch" waar hy vir my 'n balletjie gooi en ek dit dan kamma vang. Die eerste paar minute van die speletjie het my gebreek. Elke keer wanneer die balletjie teen die foon se kamera bons en leweloos na die grond val was ek bang J.G. gaan besef hoe hartseer die speletjie is. Maar hy het gedink dis groot pret. Kinders is nie van die aarde nie. Ek wens ek was so sterk soos hy.


Daar gaan dae verby wanneer ons nie gesels nie en dit is ook okay. Ek laat myself toe om die dinge te waardeer waarna ek gesmag het toe ek voltyds Mamma was - om na werk by die huis te kom en net op die bank neer te val sonder enige verpligtinge. Om naweke saam met Johan te kan wakker word op 'n betaamlike Saterdagoggend-uur. Om nie die heeltyd van die kantoor af te wees omdat J.G. 'n verkoue het nie. Dit is dinge wat hierdie hoofstuk van ons storie vir my draaglik maak - soms selfs aangenaam.


Vandag was nog 'n dag sonder moeilike oomblike. Met slaaptyd lê ek in die bed en gaan deur my gewone checklist in my kop (is die gas af, het ek die kombuiskas skoongevee, wat gaan ek aantrek moreaand, onthou jou brow-afspraak more). Miskien moet ek moreaand my rooi rokkie aantrek. Ek onthou ek het dit laas aangehad het toe ons in Gansbaai was. Dis daar waar ek vir J.G. gehelp het om versigtig oor die skulpies te loop sodat hy nie sy voete in die seewater sny nie - wat ek nie sal gee om saam met J.G. by die see wees nie.


En dan moet ek vir Johan wakker maak sodat hy my kan vashou totdat ek ophou huil.


So close!


L


Comments


bottom of page