Load Shedding
Dis donker hier waar ek lê; die enigste bron van lig twee kerse teen die trap en die lig wat bons vanaf sy selfoonskerm waar ek op sy skoot lê terwyl hy lees met sy arm oor my bors en ek liggies met die haartjies op sy vingers speel. Die doodse stilte word verbreek deur die veraf klanke van een of ander local talent wat sy weergawe van Sweet Caroline sing by 'n pub wat gelukkig genoeg is om 'n generator te hê, en die rustige asemhaling van my liefde wat net so nou en dan keelskoonmaak.
Dis mos die oumense wat so graag sê: "Vandag se jongmense weet nie meer hoe om bymekaar te wees in stilte nie. Dis mos net Facebook en musiek en iemand moet tog iets sê anders is daar fout as niemand met mekaar kan praat nie!"
Weet Tannie, ek is werklik gelukkig soos ek hier lê, in stilte. Geen Facebook. Geen televisie. Geen gesprek. Maar stil is dit beslis nie in my kop nie. Ek hoor kommer oor die petrolprys en beurtkrag wat dreig om klein besighede se deure toe te maak. Besighede wat nog nie heeltemal op die been is na die Covid pandemie nie. Kommer oor 'n salaris wat op is teen die 2de van die maand voordat enige groceries nog gekoop is. Verlange na kinders wat ure terug nog in ons arms was, maar nou by die ander huis is omdat dit destyds (en steeds vandag) die beste besluit was. Kommer oor verlof wat min raak en base wat ongeduldig raak omdat ons net nie kan ontslae raak van hierdie nuwe verkoues nie. En moenie vergeet nie, Tannie, daai verlof moet hou vir ons kinders ook want Mammas bly nie meer tuis nie.
So, ja, Tannie. Dit is moontlik vir ons jongmense om stil saam met mekaar te wees sonder om die stilte te probeer vul met sosiale media, televisie, musiek of oppervlakkige gesprekke. Maar verstaan asseblief dat ons jongmense van vandag nie die stiltes probeer vul omdat ons niks het om vir mekaar te sê nie. Ons vul die stiltes onbewustelik met allerlei dinge om die geraas in ons koppe van 'n wêreld wat vyftig jaar terug BAIE anders gelyk het, te probeer stilmaak.
So hoor my as ek sê dat ons weet hoe om lief te wees vir mekaar in stilte. En ten spyte van die geraas waarvoor hierdie ongoddelike stilte nou plekmaak in my kop, is ek tóg baie meer bewus van die arm oor my bors, die bekende, rustige asemhaling hier bolant my kop, en die skaduwee van die kruis-standbeeldjie wat die kersliggies teen die dak gooi. En dan is dit skielik nie so donker hier waar ek lê nie.
L
Comments