top of page

Moya Moya

Dis elke dag in die nuus. Iemand se bloedjie veg teen kanker. 'n Dogtertjie is ontvoer voor haar skool. 'n Seuntjie lê en veg om sy lewe as gevolg van 'n fratsongeluk by die skool. Siestog. Die arme ouers. Hulle sal okei wees. Daars berading en terapie. Dis iemand anders se storie. Maar dit is nie. Dit is nou my storie. En ek vind dit moeilik om te aanvaar dat ek 'n paar weke terug jou Hulk koek se kersie aangesteek het toe jy 5 geword het. En hoe ek net gebid het dat jy op 'n Sondagaand om hemelsnaam kan rustig raak sodat ek kan asemhaal. En hoe ek my oë vir jou kon rol omdat jy so laf is wanneer jou gunstelling liedjie speel. Ek sukkel nou om jou te onthou. Ek moet videos kyk. Ek sukkel om die hou-nooit-op-praat-maak-my-gek seuntjie te onthou. Wie jy nou is kry soveel prioriteit, dit is al wie ek nou ken. En ek weet jy gaan weer daai seuntjie wees. Daar gaan weer 'n stadium kom waar ek wonder hoeveel "Mamma"s jy op een dag kan sê. Maar vir nou pas ek aan by 'n nuwe normaal. Ek leer jou van vooraf ken. Wil jy op jou ander sy draai? Beteken hierdie "ja" rerig JA of is dit 'n outomatiese reaksie op 'n vraag? Is jy verveeld of oor-gestimuleerd? Soos toe jy 'n baba was. 'n do-over. Ek lewe in overdrive. Die wêreld gaan aan. Mense steek vuur aan en couples baklei oor vakansieplanne. Vlugte word verpas en die petrolprys is steeds hoog. Loadshedding is nog 'n ding en iewers in die laaste week het ek vergeet wie ek is. Ek onthou nie die vrou op die foto met die pienk lipstick wie gereedgemaak het vir Woensdag datenight nie. Ek onthou nie die meisie met die vars gedoende lashes voor 'n romantiese naweek weg nie. Ek onthou nie die vrou wie 200% ingesit het in haar werk en deur die nag kon hustle om seker te maak dinge is onder beheer nie. Daardie vrou het plek gemaak vir iemand wie op vinger cues 'n klein lyfie van vooraf leer om toilet toe te gaan. Iemand wie haar makeup sakkie uithaal om 'n ekstra pak wetwipes in haar vanity te pak. Iemand wie op Woensdagaand op haar man se skouer aan die slaap raak, want datenights het vir nou 'n nuwe vorm aangeneem. Iemand wie merke aan die onderkant van haar voorarms het omdat niemand nog gedink het om hospitaal bedreelings minder rond te maak nie. Sy sal terugkom. En hy sal terugkom. Hulle sal anders lyk en anders beweeg maar hulle sal enig iets kan oorkom wat die lewe vir hulle gooi.


L

Comments


bottom of page