top of page

Myne. Joune. Ons s'n

Ek is lief vir jou kinders, omdat ek lief is vir jou. Dit was my siening voor ek hulle ontmoet het ‘n paar maande gelede. Daarna het ek lief geword vir jou kinders, omdat ek lief geword het vir jou kinders. Dit het net een dag geneem. Een dag van aktiwiteite en mekaar leer ken en skaam wees en bang wees en boundaries vind en pret hê. Dit het een dag geneem, omdat een dag al was wat ek gehad het voor ek hulle weer moes groet.


Ek het met groot opwinding uitgesien na hulle kuier in Desember. My hart het verlang en die video calls die laaste paar maande het net soveel van die verlange gestil. Ons het mekaar verder leer ken. Nog mure is afgebreek. Partykeer met mekaar gesels sonder dat Pappa deel was van die gesprek. My hart het geswel. Ek het jou kinders lief.


Ek het baie nagte in my kussing gehuil. Vir jou. Vir hoe omstandighede jou verhoed om jou hart buite jou lyf in jou arms vas te hou. Vir hoe ‘n wonderlike Pa jy vir jou kinders is. Vir hoe lief hulle jou het ten spyte van nay-sayers en leuen-monsters wat hulle bang gemaak het toe hulle klein was. Vir die bankvas verhouding wat julle het en hoe baie hulle jou vertrou. Vir die feit dat jy die wêreld se liefde het om vir hulle te gee, maar beperk word tot soentjies op ‘n selfoonskerm en emojis via Whatsapp. Ek huil omdat jy die situasie met soveel grace en geduld en positiwiteit benader en omdat, ten spyte van hoe moeilik dit vir jou is, jou kinders gelukkig is. Gevestig is. Top presteerders is. En mees opvallend – JOU wonderlike sense of self het.


Ek vergeet soms dat jy ‘n pa is, tot ek jou met hulle sien gesels . Dit is ‘n ander tipe trots wat oor jou gesig beweeg wanneer jy hulle sien. Dit is ‘n ander tipe liefde wat uit jou oë kom. Jy beweeg anders. Jy lag anders. Jy is nooit vir my so mooi soos wanneer jy ‘n pa is nie. Vir hulle of vir J.G. My hart klop vreemd wanneer jou kinders op jou skoot sit, of wanneer jy ernstige gesprekke met hulle moet hê terwyl jy hulle voorberei vir die wêreld wanneer hulle onseker is oor die toekoms.


Ek was gereed. Ek was gereed om jou by te staan en vir jou 'n parenting partner te wees soos jy vir my is met J.G. Ek was vrek bang. Wat weet ek van tieners? Seuntjies, sure. Ek het een. Hy is nog klein, maar seuntjies bly seuntjies, right? Maar ‘n meisiekind. My senuwees was klaar. Ek het besluit om te reageer eerder as om leiding te neem. Die kat uit die boom te kyk. Vir nou was dit genoeg dat hulle kom kuier. My trane het vlak gesit. My hand palms het gesweet. Dit was vir my oulik hoe jy elke vyf minute aan jou klere getrek het en gehoop het jy lyk okei. Soos voor ‘n eerste date. Jy was nervous. Ek wou jou net vashou. Met die eerste groet na die vliegtuig geland het was my bang by die venster uit. Ek het hulle vasgedruk en vergeet van enige boundaries. Ons harte was heel. Jou kinders was by jou. Jy is gelukkig. Trane.


* * *


Die drie weke vakansie was op die ou einde vir my ‘n moerse leerskool. Dit was emosioneel. Dit was lieflik. Ons het baie gedoen en ek en die kinders het baie gedeel. Ons het mekaar leer vertrou en die grense getoets. Ek was basies nie verkeerd oor seuntjies nie – hy het nogsteeds ‘n stuk van my hart saam met hom op die vliegtuig geneem terug huis toe. Hy was nie bang om drukkies uit te deel of toenadering te kom soek nie. My hart verlang baie.


Daai pragtige meisiekind van jou (ons) het my egter af en toe op die agterste sitplek van die spreekwoordelike kar laat sit. Dit het my by tye hartseer gemaak, maar ek dink as ek myself in haar skoene kon plaas voor die vakansie, is dit presies wat ek sou doen as ek gewoond was daaraan om die belangrikste vrou in jou lewe te wees. Ek het spasie gegee elke oomblik wanneer ek op julle afgekom het en sy opgekrul op jou skoot gesit het, of wanneer sy inge"sweep" het en my sitplek langs jou gegaps het wanneer ek opstaan en ek dan kan sien hoeveel julle het om op te vang. Of wanneer ek kon sien hoe die trane vlak in julle aldrie se oë lê wanneer julle mekaar vashou. Julle het verbete probeer om in ‘n baie kort tydjie op te maak vir baie verlore tyd. Emosies was all over the place. Vir jou. Vir my. Vir hulle. My hart het gebreek elke keer wanneer ek kan sien hoe jy probeer om almal gelukkig te hou. Vir jou. Vir my. Vir hulle. Ek het ‘n nuwe vlak van respek vir jou ontdek elke keer wanneer jy, self rou van die dag se emosie en tiener tantrums, die krag kon vind om my saans vas te hou en te troos wanneer die emosionele roller coaster vir my te veel was. Waar kry jy jou krag? Ek dink nogsteeds jy is nie van hier nie.


Was dit moeilik om my tyd met jou af te staan? Soms. Sal ek dit weer doen? Beslis. Ons huidige omstandighede verg compromise. Ek het hierdie vakansie geleer dat ek dalk in die toekoms weer op die agterste sitplek gaan sit totdat ons tyd met jou (ons) kinders meer permanent raak. Maar tot dan sal ek, wanneer omstandighede dit verlang, vanuit die agterseat weet dat ek so nou en dan steeds jou gesig kan soek in die tru-spieëltjie. Want al het ek by tye gedink jy sien my nie raak nie was ek, sonder dat ek dit besef het, steeds elke liewe oomblik in jou sig.


L

Comments


bottom of page