Die lank en die kort daarvan
Ek kannie ‘n tyd onthou toe ek dik hare gehad het nie. Of lang hare. Ek onthou ‘n skool foto van Standerd drie, toe my hare in ‘n lang ponytail vasgemaak was en hoe my tannie altyd vir my gesê het: “Jinne, jy lyk darem net soos Alida in die foto”. My niggie, Alida het ‘n lekker dik bos hare gehad. So ek dink nie my tannie het na die hare verwys nie. Die familietrekke het meer oor die gesig langs geloop.
Ek het ook vroeg besef dat hartseer en haarstyle aanmekaar gekoppel is soos Whitney Houston aan Bobby Brown. En toe George Pieterse my hart in Standerd vier gebreek het omdat hy nie die Valentynsgeskenk wou hê wat ek vir hom gekoop het nie (‘n blik Status spray met bypassende aftershave) het ek ‘n skêr gevat en vir my ‘n kuif geknip. Dit was, soos die noodlot dit wou hê, ‘n paar dae voor skool-fotodag en ek koester nou die herinnering aan daai stukkende hart en groot voorkop vir altyd.
Ek het later, voor ek oud genoeg was, een van die dorp se “cool” tannies gevra om my ma te oortuig dat ek my hare mag dye. Niks wild nie. Net ‘n kleur soos bruin of blond, aangesien my hare nie kon kies of hy bruinvaal of blondvaal wou wees nie. Die resultaat was gelukkig meer aanskoulik as die kuif-tragedie en ek kon my Standerd ag Desembervakansie met ‘n pragtige chocolate bruin kapsel aanpak.
Ek het ná skool begin eksperimenteer met korter style met die hoop vir meer volume. Ek het deurentyd my hare laat teruggroei verby die awekward stadium waar dit nie goed lyk as dit los óf vas is nie, en sodra die volgende Die Een my hart breek, was dit terug na ‘n pixy cut.
Ek het my eerste voorsmakie van extensions gehad tydens die voorbereiding vir my eerste troue. Dit was niks permanent, of selfs semi-permanent nie – dit was blote clip-ins en ek was verlief. My eie drie hare het met die nuwe regte-egte menshare geblend soos gin in tonic en ek wou nooit weer NIE lang hare hê nie. Die romanse was egter van korte duur (ek praat van die extensions, natuurlik) en kort voor lank het die clip-ins in ‘n boks agter in my kas gelê en praatjies aanknoop met twee jaar terug se swembroek wat ook nie meer pas nie.
Ek was egter so naby aan “natuurlike” lang hare soos dammit aan ‘n vloekwoord, en het toe ‘n paar jaar later weer gesoek na clip-in hair extensions. Groot was my verbasing toe ek uitvind dat ‘n mens ook meer permanente tipes extensions kry van regte menshare, en dat dit net een arm en die helfte van ‘n been sou kos. Ek het die geld bymekaargekry en vir my eerste stel Nano-ring extensions gegaan. Die proses was emosioneel en die resultate beter as wat ek ooit kon droom. Dit was die volle arm en ‘n volle been werd! Ek het vir die eerste keer in my lewe een honderd persent vrou gevoel! Ek kon vlegsels maak wat nie gevoel het soos riempiestoel-riempies nie en ek kon ‘n ponytail dra wat om my nek oor my skouers kon hang. Ek kon my hare los dra sonder dat dit minute later sulke spaghetti-mop toutjies om my kop vorm, en ek kon krulle insit vir spesiale geleenthede. Ek was in my element!
Ongelukkig was my ekstase ook van korte duur, aangesien ek nie die fynskrif gelees het nie (of dit dalk geignoreer het). Die onderhoud van hierdie regte-egte menshare sou my ánder arm en been kos, en dáárvoor het ek nie kansgesien nie. Die hare het mettertyd beskadig begin raak as gevolg van goedkoop produkte wat ek daarop gebruik het en ek moes dit noodgedwonge uithaal. Dit was gedurende die eerste paar weke van Covid, so dit moes ook ‘n tuis-operasie wees aangesien salonne nog non-essential was. Daar was ‘n paar casualties en die prentjie was nie mooi nie. Ek dink helfte van die land se haarkappers kon daardie aand nie slaap nie, en weet nou nog nie waarom nie. Die dinge wat my badkamerspieël daardie nag moes sien verdien ‘n ouderdomsbeperking. Dit was rof! Twee wasse en ‘n paar trims met die kombuisskêr later het ek ‘n mooi bob gehad. Back to square one. Ek het daar vrede gemaak dat lang, dik hare nie vir my beskore is nie.
Fast forward na so agt weke gelede, toe ek en Johan rondom ‘n vuur staan en gesels by een of ander liefdadigheidsfunksie en iemand verby ons loop met die pragtigste lang hare. Niemand het ‘n opmerking gemaak nie. Niemand het haar dalk eers raakgesien nie, maar iets in my binneste het wild begin rondspring en voor ek my kon keer blaker ek uit: “Ek dink daaraan om weer extensions te kry”. Toe ek dit sê was ek net so verbaas soos Johan, want 1) ek het nie beplan om enig iets te sê nie, en 2) ek het nog nooit daaraan gedink om weer extensions te kry nie! Maar toe die woorde uit is het daar ‘n dringendheid in my ontstaan wat nie wou stilraak nie. Ek het die volgende dag begin navors en pryse vergelyk en wil jy nou meer – dieselfde salon wie destyds my nanorings ingesit het, het tape-in extensions óók (die tipe wat ek nou oorweeg het) en hulle pryse was BAIE billik (in vergelyking met die groter salonne waar die extensions drie keer die prys van my karpaaiment is).
Ek was vasberade dat ek hierdie keer my huiswerk behoorlik gaan doen – dit is immers ‘n belegging en ek gaan nie ‘n plaas se prys betaal net vir dit om oor drie weke weer in die drom te lê nie. Ek sal die regte produkte gebruik en ‘n lys van vrae maak sodat ek seker is ek kyk mooi na hierdie hare. Ek het my lysie gemaak en is opgewonde na die salon waar my lewe weer sou verander. Die intrapslag was bietjie underwhelming – ek was bekommerd oor die toestand van meeste van die girls wie daar werk se hare en het onmiddelik gebid dat ek nie vandag gehelp gaan word deur ‘n tandarts met geel tande nie. Die ontvangsdame se hare het gelyk asof dit ‘n goeie paar dae laas gewas is, maar then again, dit kon net die harde beligting wees. Dit is in elkgeval nie sy wie my hare gaan transformer nie. Sy het die “stilis” geroep wie my eie hare bestudeer het (dit was vasgemaak) en daar is besluit dat my eie haarkleur nie pas by enige van die skakerings extensions wat hulle in die winkel het nie. Hulle sal die extensions moet kleur. Nog geld. Eina.
Dis reg, sê ek. Ek sal vir Johan vra of hy die geld sal oorbetaal aangesien ek tot op die sent gebudget het vir hierdie nuwe hare.
Dis reg, sê Johan. Jy kan maar kleur, ek betaal oor.
Goed, sê die dame, maar onthou jy het twee pakke bestel so ons gaan twee pakke moet dye. Dit is dubbel die prys.
Byt op my tande en Whatsapp weer vir Johan. Bless his soul, hy betaal twee pakke se dye-geld oor. So sit ek ‘n uur en wag vir die hare om klaar gedye te word toe die ontvangsdame my kom haal om my eie hare te gaan was. Soos sy my hare spoel sê sy: "My jinne, jou haartjies is so min en so fyn, lyk my ons sal net een pak hoef te gebruik!" Score! Ek kan helfte van my karpaaiment terugkry!
Great, sê ek! Gebruik net een pak!
Dis reg, sê sy, maar onthou ons het nou reeds altwee pakke gedye, so mevrou sal vir altwee pakke moet betaal.
Ek dog ek bars ‘n aar en verf daai agter-waskamertjie nét daar bloedrooi! Wat?!
Wel, dan beter julle plek VIND op my kop, maar julle sal altwee daai pakke gebruik!
Ja, mevrou, maar mens kan ook nie te veel op die kop laai nie, anders is dit te swaar en dan skyn dit deur die regte hare.
Wat sê ek nou? Dis al na ses in die aand. Ek is honger. Ek wil mooi hare hê en ek wil huis toe gaan.
Dis reg. Kyk maar wat julle kan doen, sê ek terwyl ek wonder waarom niemand in die uur wat ek gesit en niks doen het na my hare kom kyk het voor hulle begin dye het nie.
‘n Pynvolle uur en ‘n half later (na geen kopmassering met die was nie, by the way) is my extensions in en lyk ek tóg te pragtig! Dit was amper mooi genoeg om die aaklige boodskap van my bank en die tyd op die horlosie te verbloem. Almal was baie in hulle skik met die nuwe hare. Ek het verder seker gemaak ek het die regte shampoos en maskers en heat protection en satynrekkies en borsels. Hierdie hare gaan HOU!
Ek het die aanbevele ses weke afspraak gemaak vir die uithaal en opskuif van die extensions en die kwotasie vooraf gekry sodat ek hierdie keer gereed is. Niks ekstras nie. Ek het weer by die salon opgedaag – selfde vaal dametjies, selfde goedkoop gevoel. Ek het gaan sit, gereed vir ‘n vars haarstyl.
Ek dink ons was so twintig minute in die proses waar die extensions uitgehaal word toe ek vir die girl verduidelik dat ek nou onproffessioneel gaan begin optree en op haar gaan begin skree. G’n mens kan een mens so seermaak en dit nie weet nie! Dit is die tipe seer wat nie verskoon kan word deur ‘n jammer of ‘n oops nie. Die tipe seer wat veroorsaak dat ek telke male vir haar wou vra of sy nie eerder net my eie hare wil afsny by die wortels, eerder as om te probeer om die extensions uit te mergel nie – dalk sal die skade minder wees.
Hoe verder die tyd aangestap het hoe meer geirriteerd het ek geraak met ALLES by die salon. Ek was kwaad vir die feit dat hulle een persoon het wie die fone antwoord, die hare spoel en die extensions was / kleur. Ek was kwaad oor my “stilis” ‘n pienk duntand kammetjie gebruik wat DUIDELIK by die goedkoop blou-en-geel winkel gekoop is en een of twee tande vermis. Ek was kwaad oor die flatirion wat sy gebruik se verf besig is om af te dop. Ek was vies oor hulle die vorige keer vir my vir twee pakke hare laat betaal het toe een pak genoeg sou wees.
My martelsessie was genadiglik verby na sowat ‘n uur en my kop was vry van enige extensions. Dit was tyd vir ‘n was en ek kon nie wag vir vingers om my kopvel te vertroetel nie. Ek en my “stilis” was teen die tyd nie meer die beste van maatjies nie, so ek kon seker nie verbaas wees toe sy my opjaag na een keer se shampoo nie. Geen massage. Nie eens my ore drooggemaak nie.
Ek het weer in die martelstoel gaan sit en sy het die extensions weer begin insit. Die resultaat was so mooi soos die eerste keer en ek is til toe om te betaal. Ek het gevra dat hulle ‘n botteltjie shampoo bysit en was toe effe uit die veld geslaan toe die totaal optel tot meer as die behandeling en die botteltjie shampoo.
Waarvoor betaal ek alles, vra ek.
Mevrou betaal vir die behandeling soos gekwoteer, die shampoo en ‘n Vyf en Tagtig Rand service fee. My dekseltjie het gelig. Ek het in my mooiste kners-op-my-tande manier vir haar gesê sy kan maar haar shampoo terugsit, ek sal die diensfooi betaal onder protes en hulle sal my nie weer sien nie.
Ek het oppad huis toe, en vir die volgende paar dae, gevoel ek wil die extensions uit my kop trek! Dit was swaar, ongemaklik en elke keer as ek aan dit skuif of rondom dit krap kon ek voel hoe daar hare ingetrek het by die bonds wat nie deel moes vorm van die bonds nie. My hare het gebreek en my kopvel was seer en ek wou mal word. Ek het dadelik ‘n stilis gekontak na wie ek verwys was destyds tydens my navorsing. Sy was besig, maar kon my verwys na ‘n kollega. Ek het ‘n afspraak gemaak en sommer net daar betaal vir die uithaal en herinstallasie van die tape-ins, nadat ons ‘n rukkie gesels het en ek kon agtergekom dat sy sommerso sonder om by hare te sien weet wat die ander “stillis” verkeerd gedoen het.
So is ek vanoggend deur na haar salon in Malmesbury (sy het ook een in Brackenfell) en is met my aankomen by House of Hair vriendelik gegroet deur ‘n stylvolle vertrek, hoë gehalte atmosfeer en die wonderlikste mens! Krystal het my extensions uitgehaal sonder ‘n greintjie pyn en my ná die tyd bederf met die heerlikste was en massering wat ek nóg gehad het. Sy het my gerus gestel dat, ten spyte van die goedkoop, swak diens wat ek ontvang het, die kwaliteit van my extensions goed is.
Ek sien uit daarna om na haar terug te keer oor twee weke sodat sy die tape-in extensions behóórlik kan installeer en sy my kroon weer kan transformeer zodat dit uiteindelik kan lyk en voel soos ek gewens dit kon op daai vreeslike Valentynsdag in Standerd vier toe my kuif die prys moes betaal vir liefde wat nie tweesydig was nie.
Groete
L
コメント