top of page

Om eerlik te wees...

Clever little fat girl. Dit is hoe ek myself beskryf wanneer mense vir my vra hoe my laerskooljare was. Ek het, soos meeste kinders, deurgeloop onder boelies. Die popular girls het my graag bevriend tot dit nie meer vir my nodig was om hulle huiswerk te doen en/of vir hulle goeie punte in ‘n groepsprojek te verseker nie, en sal dan skielik een pouse vir my sê ek is nie maer genoeg om by hulle te sit nie.

 

My stryd met gewig gaan terug sover soos ek kan onthou. As ek terugkyk na die fotos in my skoolalbum sou ek nie vandag sê dat ek só vroeg al geklassifiseer kon word as oorgewig nie. Ek was “frisser” gebou as die gemiddelde dogtertjie, maar ek sou sê dat ek eers in Standerd 4 merkbaar oorgewig was. My vroegste herinnering is egter in Sub-A, toe die woord “vet” vir die eerste keer in my rigting gegooi is deur ‘n dogtertjie op ons skoolbus. Ek onthou ek het gehuil, en dat my liewe ma vir my advies gegee het wat ongelukkig eers sou sinmaak toe ek ouer word.

Moenie jou aan hulle steur nie. Wanneer iemand iets lelik van jou sê is dit omdat hulle sleg voel oor hulself.

Ek sal dit nooit vergeet nie. Dit het ongelukkig tóé nie veel vir my beteken nie, maar wat anders doen ‘n ma in so ‘n situasie?

Ek het in Sub-B saam met my ma begin Weigh-Less groepies bywoon en ons het begin calorie count. Ek onthou die Weigh-Less boekie met die plastiek omslag wat baie gelyk het soos my inenting-boekie, en dat my ma my geweeg het en dan goed daarin geskryf het, maar ek kannie regtig onthou of Weigh-Less op die ou einde ‘n wesenlike verskil gemaak het nie.

Iewers in Standerd 1 het ek ‘n dieetkundige gesien. Sy was eintlik die dominees se vrou, maar ek dink sy het een of ander kwalifikasie gehad in dieetkunde of gesondheid of iets. Ek onthou ook sy het baie gepraat oor hoe goed appels vir mens is (Eva?). Ons het my geweeg en ek het ‘n stukkie papier met ‘n programmetjie gekry en ‘n paar inspirational quotes en ons is daar weg. Ek het ná ‘n maand van baie appels eet wéér na haar gegaan om te weeg en ek was 5 kilogram ligter! Eva was reg! Ek wou nóg 5 kilogram in nóg vier weke afskud, maar het natuurlik op agtjarige ouderdom nie so baie gehad om te verloor nie, en ná nog vier weke en ses dosyn appels was ek slegs 0.6 kg ligter. Die teleurstelling was groot en ek het moed opgegee.

 

In Standerd 4 was ek verheug toe sweetpakke deelgeword het van ons skooluniform. Al die cool meisies se rokke het vier vingers bo die knie gesit, maar myne het nie, omdat die rokke langer word soos hulle opgaan in size. Ek het dus begin wegkruip in die skool se alternatiewe uniform so gereeld soos ek kon en wou telke male maak of ek siek was wanneer ek my té-knap skoolrok moes aantrek, omdat die sweetpak in die wasgoedmandjie gelê het.

 

Iewers aan die begin van Standerd 6 het ek Sweet Valley High boeke ontdek en aanklank gevind by Ans se karakter; ‘n oorgewig tienermeisie wie só graag wou hê Pierre moes haar raaksien, maar heeltyd onsigbaar was vir seuns as gevolg van haar “ronder” figuur. Ek het besluit om weer bewus te word van wat ek eet en hoe aktief ek is, en ek kannie onthou of dit my bewustelike poging was en of dit gedurende dieselfde tyd was toe ek vir drie weke in die hospitaal gelê het nie, maar somewhere along the line het ek sowat 15 kilogram afgeskud, en kon ek myself vir die eerste keer klassifiseer as “nie-oorgewig”. My hoërskool-uniform het met my terugkeer skool toe soos ‘n sak aan my gesit, en my resultate was nie dadelik sigbaar nie. Dit was eers toe my ma vir Tannie Daniel langsaan gevra het om my broeke in te vat, dat ek die volle glorie van drastiese gewigsverlies ervaar het.

Senior meisies wie voorheen nie geweet het ek bestaan nie, het na my gekom en my gekomplimenteer oor hoe maer ek geword het (dit was die heel eerste keer in my lewe waar ek na verwys was as “maer”). Seuns het my raakgesien. Onderwysers was beïndruk. Ek het my eerste boyfriend gekry en dit het gevoel asof dinge in daardie stadium nie beter kon gaan nie!

 

Mettertyd het my gewig egter weer begin terugbons na “minder maer”, my hart is vir die eerste keer regtig gebreek en ek het weer in groter klere begin wegkruip. Ek het hegte, nie-oppervlakkige vriendskapverhoudings gevorm en meer begin fokus op my skoolwerk terwyl ek hier en daar probeer het om bewus te wees van wat ek eet. Ek was aktief betrokke by buitemuurse sportaktiwiteite, maar hierdie aktiwiteite het later ook meer kultureel en minder aktief van aard geword.

 

Ek het in Standerd 8 Kaap toe gekom en my laaste drie skooljare vanuit ‘n koshuis voltooi. Ek het geleer dat ek ophou eet wanneer ek stres, en ooreet wanneer die stres verby is. Ek het ook geleer dat mens se liggaam lelik is met jou wanneer hy deur baie spanning en min slaap gaan, en dat baie spanning en min slaap mettertyd óók op jou heupe gaan sit. Skool in die Kaap was moeilik en ek het nie veel tyd gehad vir “inpas” of verlief wees nie, so ek het in my laaste drie jaar van skool minder gefokus op my voorkoms en meer gefokus op my punte. Ek dink ook dat ek ná Standerd 8 nie een keer weer teruggekeer het na ‘n aanvaarbare syfer op die skaal nie, en my stryd met oorgewig-wees het een geword wat ek tot vandag toe fight.

 

Ek het ‘n paar keer ná skool die “oefen-hard-terwyl-ons-calories-count” ding gedoen, en elke keer so tussen 5 kilogram en 7 kilogram verloor, maar nooit genoeg om meer as een dress size kleiner te word nie. Ek het vóór my troue hard gewerk om mooi te lyk in ‘n trourok, maar ná baie maande en min verandering moed opgegee. Ek was na J.G. se geboorte omtrent 14 kilogram ligter as wat ek was toe ek swanger geword het met hom vanweë die feit dat ek vir nege maande lank alles opgebring het wat ek geëet het, en ek het, ten spyte van die min slaap met ‘n pasgebore baba, vir die eerste keer sedert hoërskool goed gevoel oor hoe ek lyk. Ek het egter weer ná ek ophou borsvoed het ernstig gewig begin aansit.

 

As jy my ken sal jy weet dat ek nog nooit bang was vir oefen nie. Ek het nog nooit teruggestaan vir ‘n uitdaging nie en ek is obsessief daaroor om klaar te maak wat ek begin het. Tye het ook intussen verander. “Vet” word nou na verwys as “Plus Size” of selfs “mid size”, want mens mag mos nie mense offend nie. Dit het makliker geword om “plus size” te wees, want dit was skielik ‘n meer aanvaarbare voorkoms. Hoe ouer mens ook word, hoe minder gee mens om oor wat ander van jou dink en hoe meer besef jy dat mense wat neerhalende dinge van jou sê, eintlik sleg voel oor hulself (dankie, Mamma. Dit maak nou sin). Mans stel skielik belang in meisies wat kan kook en hou van eet en iets het om aan te vat. Al hierdie dinge was heerlike verskonings om minder te fokus op gewigsverlies.

 

Maar ek het onlangs ‘n punt bereik waar ek ongemaklik begin voel het in my vel. Dinge waarmee ek jare lank al saamleef, het my begin irriteer. Ek het nie meer daarvan gehou om uitasem te wees wanneer ek my skoenveters vasmaak nie. Ek wil nie meer dieselfde klere eenkant toe skuif omdat dit nie meer reg pas nie. Ek wil nie meer soos ‘n mislukking voel elke keer as ek gemorskos eet nie. Ek wil nie meer in die oggend wakker word en gelukkig wees met alles in my lewe, behalwe my gewig nie. Ek wil nie meer voor die spieël staan en nie hou van wat ek sien nie.

 

Dit is natuurlik nie die eerste keer dat ek so voel nie. Ek het deur my lewe al ‘n paar keer hierdie punt bereik. So hoekom het ek nie toe iets daaraan gedoen nie? Hoekom nou? Wat het verander?


Kom ons gesels gou op hierdie punt oor twee faktore wat nie vir my genoeg in ag geneem word wanneer mense vir jou vra waarom jy jouself “laat gaan" het nie. Faktore wat baie maklik na verwys word as “verskonings”. Faktore genaamd tydsbestuur en finansies.

 

Daar is miljoene memes en inspirational quotes en videos oor hoe die gemiddelde mens veronderstel is om sy tyd as volg te verdeel:

 

🔸Werk - 9 ure

🔸Slaap - 8 ure

🔸Familie-tyd - 4 ure

Totaal: 21 ure

 

Dit lyk dan asof daar dan nog sowat 3 ure in die dag beskikbaar is om te oefen, en daar dus geen verskoning is waarom jy nie aktief kan wees nie!

 

Wat hierdie “inspirerende” mense nie in ag neem nie is dat die gemiddelde persoon se dag eintlik as volg verdeel moet word (veral as jy ‘n Mamma of enkel-ouer is):

 

🔸Werk – 9 ure

🔸Reistys na en van werk – 2 ure

🔸Voorbereiding om kinders by die skool te kry en seker te maak jy het klere aan (make-up is opsioneel) – 2 ure

🔸Huiswerk en take met kinders, naskoolse aktiwiteite – 3 ure

🔸Kosmaak – 1 uur

🔸Sorg dat almal gebad en geëet het – 2 ure

🔸Huis opruim nadat die kinders gaan slaap het – 1 uur

🔸Slaap – 8 ure

Totaal: 28 ure

 

Waar, vra ek jou met trane in my oë, moet mens tyd inpas vir oefen?! Waarom dink jy begin baie mense meer fiksheidsbewus lewe nadat die kinders uit die huis is, of rondom hulle aftrede? Want hulle het dán eers die tyd! Ons lewe ongelukkig in ‘n tyd waar twee mense se inkomste ‘n huishouding aan die gang moet hou en soms is daar nie eens twee inkomstes nie – daar is net joune!

 

Dit bring my by die volgende faktor – finansies. Dit is ‘n MOERSE uitgawe om regtigwaar, calorie-count-volgens-'n-program gesond te lewe! Ek was in geen posisie vir jare voor nou om eers te dink aan die ekstra maandelikse uitgawe van gym-toe-gaan nie. Wanneer jy R43 in jou bankrekening oor het en aandete moet maak, gaan koop jy ‘n pak pasta vir R20, ‘n liter melk en ‘n pakkie Mushroom soppoeier. Maaltyd vir twee aande! Waar in jou lewe gaan jy kan bekostig om met daardie geld te lewe op tuna of spinasie of bulgaarse yoghurt of vrugte? Witbrood was goedkoper as bruinbrood. ‘n R10 porsie slaptjips is goedkoper as ‘n porsie groente. Dit is goedkoper om ongesond te eet, as om gesonde kos aan te skaf!

So sê wat jy wil, dit is ‘n massiewe voorreg om in ‘n posisie te wees waar jy die finansies en die tyd het om te werk aan jou gesondheid.

 

So wat het vir my verander? Die kort antwoord is Johan. Die langer antwoord is harde werk, opoffering en 'n gesonder mindset. Die "verskoning" faktore het ook verander (deels as gevolg van Johan se bystand, deels as gevolg van beter geld- en tydbestee aan my kant).


🟢Tydsbestuur:

Die grootste verandering is die feit dat ek skielik in ‘n situasie beland het waar ek nie meer voltyds die verantwoordlikheid het van Ma-wees nie. Dit het onmiddelik ‘n paar ure elke dag vrygestel wat ek nou beskikbaar het om aktief te wees. Alhoewel, selfs toe J.G. voltyds by ons gebly het kon ek ‘n uur gedurende die dag neem om gym toe te gaan, omdat Johan ‘n fantastiese parenting partner is wie nie skroom om die leisels oor te neem nie. As jy iemand in jou lewe het wie ná werk vir 'n uur jou pligte as ouer kan oorneem, dan is oefening moontlik.


🟢Finansies:

Wat die finansiële aspek betref, het ek die besluit geneem om ‘n paar aanpassings in my begroting te maak om voorsiening te maak vir ‘n lidmaatskap by die gym (dit is verbasend hoe maklik mens R200 – R300 per maand iewers kan vrystel as jy hard genoeg soek). As jy vir Johan vra sal hy vir jou vertel ek werk baie hard om die leefstyl te bekostig wat ek nou handhaaf, maar dit sal verkeerd wees om nie erkenning te gee aan die aandeel wat hy ook daarin het nie. Johan werk baie hard en sorg baie mooi vir ons. Wat gesonder kos betref het ek 'n ontdek dat mens tóg goedkoper opsies kry wat werk op 'n non-existant budget.


🟢Mindset:

So ‘n paar maande gelede het ‘n video van FitnessgirlSA op my Instagram feed verskyn en ek was onmiddelik meegevoer deur die pragtige vrou se fantastiese selfbeeld ten spyte van die feit dat sy plus size is en nie inpas by die “aanvaarde” definisie van sexy nie. Wat vir my opvallend was, behalwe vir hoe hard sy oefen, was hoe goed en selfversekerd sy lyk in klere waarin jy my nie dood sal sien nie! Dit was verfrissend om iemand te sien wie min of meer my liggaamsvorm het en wie so floreer in enige tipe outfit! Sy was onmiddelik vir my ‘n inspirasie van hoe om vreesloos te lewe! En wat nóg mooier was, is hoe mooi haar man (wie ooglopend fiksheid- en gesondheidsbewus is) haar ondersteun en liefhet in haar journey tot 'n fikser, gesonder leefstyl. Ek onthou hoe ek gedink het: “Dalk is dit tóg moontlik om plus size EN mooi te wees”. Ek hou haar account met ‘n valkoog dop. Sy is die rede waarom ek twee weke gelede die foon opgetel het en aangenaam verras was toe ek uitvind dat ek ook ‘n personal trainer kan aanskaf vir onder R150 per sessie. Sy is die rede waarom ek begin het om met gesonde perspektief na my fiksheid te kyk. Sy is die rede waarom ek glo dat mooi nie nét gemeet word aan die nommer op jou broek se lable nie.


Ek het geen begeerte om maer te wees nie. Ek het 'n begeerte om gesond en gemaklik in my lyf te wees. My doelwit is om 'n plek te bereik waar ek nie myself wil stenig omdat ek 5 kilogram opgetel het of 5 kilogram verloor het nie. Ek is tans nog nie besig om te calorie-count nie. Ek het doelbewuste eetgewoontes wat behels dat ek die gesonder opsie kies indien daar een is, en nee dankie sê indien daar nie 'n gesonde opsie is nie. Ek koop bruin brood inplaas van witbrood. Ek drink 1 suiker in my koffie in plaas van twee. Ek drink Caslte Light in plaas van Black Label. Want die opsies wat ek nou kies is alreeds beter as die keuses wat ek twee weke gelede gemaak het en die feit dat ek vandag oefen maak my alreeds fikser as wat ek gister was. Soos my liggaan aanpas sal ek daarna luister, en wanneer ek gereed is vir die volgende stap sal ek begin om die calories dop te hou in samewerking met my oefenprogram. Maar vir nou vat ek die journey stadig en ek maak seker ek daag elke dag op. Ek het iewers gelees: Being overweight is hard. Being fit is hard. Choose your hard.

 

Johan het my ontmoet in ‘n tyd toe ek die laagste punt van my bestaan bereik het - fisies en emosioneel. Hy het my daar kom uitlig en my gereeld aangemaan om nie so hard op myself te wees oor my voorkoms nie. Hy sou dan vir my sê: Ek sien ‘n vrou wie se liggaam gevorm is deur ma-wees, sterkwees, min slaap en baie stres. Hy kon my nog altyd oortuig dat ek vir hom mooi is. Hy het my nooit laat voel dat ek iets aan myself hoef te verander om mooi te wees nie. Maar dit was vir ons albei belangrik om seker te maak dat ons soveel moontlik tyd het saam met ons kinders, en eendag kleinkinders, en ons het daarom saam besluit dat ons ons kwaliteit van lewe gaan prioritiseer.

 

My dream team bestaan tans uit Johan, FitnessgirlSA (sonder dat sy dit weet) en my personal trainer, Amore Brazer, wie my aanspoor om aan te hou werk. Want oor 'n jaar wil ek hê Johan moet na my kyk en kan sê: Ek sien 'n vrou wie se liggaam gevorm is deur ma-wees, sterkwees, genoeg slaap, gesonde stres en baie deursettingsvermoë. En ek wil haar ook kan sien.


Want ek is dit verskuldig aan daai dogtertjie op die bus wie vet genoem was en haar eerste gewigsverlies-oorwinning reeds op agt jaar oud moes beleef. Ek is dit verskuldig aan die jong meisie wie se kêrel haar hart gebreek het toe sy veertien jaar oud was omdat sy nie gelyk het soos haar vriendin nie, en ek is dit verskuldig aan die geskeide vrou wie op pasta en witbrood geleef het terwyl sy ‘n kind grootgemaak het en drie jobs gewerk het. 

 

Clever little fat girl, byt vas! Die lewe word mooi en alles werk uit presies soos dit moet.


L


NS: As jy brand om 'n verandering te maak, maar sukkel met tydsberekening, finansiële beplanning of jou mindset nie reg is nie, reik asseblief uit na my. Ek sal graag wil sien of jy in 'n posisie is om 'n paar veranderinge te maak en dan saam met jou die journey aanpak, waar ookal jy is!

Let me know what's on your mind

Thanks for submitting!

© 2035 by Turning Heads. Powered and secured by Wix

bottom of page