top of page

Op die oog af

If it walks like a duck and talks like a duck, it must be a duck.


Soms, as ek besig raak met alledaagse dinge, vergeet ek vir 'n oomblik waardeur hy is. Waardeur ons is.


Ek voer gesprekke met my vyf-jarige, al moet ek soms dieselfde vraag beantwoord wat hy gister vir my gevra het.


Hy hardloop buite saam met maatjies rond, al moet ons hom fyn dophou en elke paar minute skree "nie so vinnig nie!" en "tel op jou voete!".


Hy slaap op sy eie sonder om wakker te word, al is ons terug op die doek (net vir ingeval) en al neem dit soms weer tot 50 minute om aan die slaap te raak.


Hy bad op sy eie, al sukkel hy soms om te kan sê of die water te koud of te warm is.


Dit is nou en dan maklik om te vergeet dat ons nog op die pad na herstel is, maar dan word ek daaraan herinner wanneer hy weer onuithoudbaar emosioneel raak as hy sy 11am nap mis.


Of wanneer ek sy aspirin en anti-seizure pilletjies vir hom soos smarties voer.


Of wanneer hy my roep om vir my iets te sê en dan glad nie kan onthou dat hy met my wou praat nie.


Of wanneer ons 9h53 op 'n Maandag-oggend sit en TV kyk omdat hy nie by die skool kan wees nie.


Of wanneer ons bad en ek die merkie sien wat die rugmurg-naald gelos het.


Ek is gereed om 2022 te groet, sodat ons in 2023 kan werk ter voorbereiding van die operasie en ons almal kan begin om terug te keer na 'n (nuwe) normaal. Waar ek weer kan werk toe gaan en net 'n klein bietjie beheer in my lewe kan terugkry. Waar ons kan insettle in ons nuwe nessie en ons ritme kan vind as 'n gesinnetjie van 3 (uit 5).


Want soos dinge nou staan is dit after all nie altyd 'n eendjie net omdat dit loop en praat soos een nie.


L

Let me know what's on your mind

Thanks for submitting!

© 2035 by Turning Heads. Powered and secured by Wix

bottom of page