top of page

Prince vs Pauper

The Princess Switch. The Prince and the Pauper. Dit is ‘n storie so oud soos tyd. Die gewone meisie loop haar vas in haar dubbelganger – ‘n Hertogin – en hulle besluit om mekaar se lewens te lei vir ‘n paar dae. Of ‘n mishandelde nikswerd word deur paleiswagte gearresteer net vir sy lewe om gespaar te word deur die Prins, waarna die twee (ook dubbelgangers) besluit om rolle te ruil vir ‘n wyle. Hoe wonderlik moet dit nie wees nie, het ek altyd gedink! Om skielik geen finansiële bekommernisse te hê nie. Om sonder enige finansiële druk deur die lewe te gaan. Om jou aandag te kan fokus op ander belangrike dinge. En dan hoor ek die sameleweing: Onthou, Lynette, geld koop nie geluk nie.


Ek het nog nooit van hierdie sêding gehou nie. Ek weet watter boodskap dit veronderstel is om oor te dra, maar dit moet dalk bietjie gewysig word om iets te sê soos: “Dit kos meer as net geld om gelukkig te wees”. Want so oud soos hierdie sprokiesverhale is, so oud is die wete dat geld BESLIS die lewe gemakliker maak. En ek het iewers langs die pad vrede gemaak daarmee (gewoond geraak daaraan) dat die tipe gemak wat geld bring nie vir my beskore is nie. Kyk, ek het nooit weelde gesoek nie. Net minder kommer. Net gemak.


Ek het as kind nooit iets kortgekom nie. Ek was nie vrot bederf nie en my kamer was nie met goue standbeelde besaai nie, maar ek was gelukkig. Toe word ek groot. Ek moes na myself kyk. Ek moes besluite neem met die informasie wat tot my beskikking was. Ek moes foute maak en daaruit leer. En in die proses het ek myself al hoe meer aan die kant van die Pauper gevind. Tye het moeiliker geraak. Vir baie lank. Vir só lank dat ek vergeet het hoe dit voel het om nie te sukkel nie. My nuwe normal was een waar ek daagliks my eie potjie moes krap om seker te maak ek oorleef. Ek het geleer om ‘n plan te maak. Ek was in survival mode. Ek het net myself gehad om op staat te maak. Dit is al wat ek geken het.


Ek onthou, ek het ‘n “worry checklist” gehad. Ek het dit elke aand in my kop deurgewerk sodat ek seker was ek vergeet nie iets wat ek moet probeer uitsorteer wanneer ek wakker word nie, en ek het elke oggend wanneer ek wakker word die knop op my maag probeer opsyskuif wanneer ek wéér deur die lysie gewerk het sodat ek kon probeer uitfigure hoe ek vandag die probleme gaan tackle. Die lysie het gewoonlik bestaan uit goed soos:


“Jou kar se petrolliggie brand – kry petrolgeld in die hande om terug te kom van die werk af”

“JG het verkoue – berei jouself voor dat die skool gaan bel sodat jy hom kom haal, en jy wéér verlof sal moet insit”

“Daar is kos vir die week, maar JG het gevra vir beentjie-hoender vannaand. Hoor by Ma of sy vir julle hoender kan koop”

“Jy konnie gister twee van jou werkstake afhandel nie, want jy moes JG vroeg gaan haal het by die skool omdat sy neus geloop het – doen daardie take eerste ding wanneer jy op kantoor kom. Nee, wag – probeer eers jou worry-checklist afgehandel kry. Dan werk”

Dit was ‘n konstante kringloop van bekommer en planmaak. Natuurlik was die grootste bron van hulp in daardie tyd die mense naaste aan my, sonder wie ek nie vandag sou sit waar ek sit nie. Maar die druk van verleë wees kon soms groter wees as die druk wat enige van die dinge op my lysie veroorsaak het.


En toe op ‘n dag bots die bootjie waarin ek sukkel-sukkel voortgeroei het met ‘n ander bootjie in dieselfde waters. Ek kon aan die begin nie uitmaak of die bootjie so gehawend was soos myne nie, maar ons het oor en weer gesels en ek het verneem dat die roeier van die bootjie ook al vir die beter gedeelte van tien jaar in hierdie selfde waters roei. Hy was bemoedigend. Ten spyte van die onstuimige waters waardeur ons gaan was hy positief en optimisties. Ek het uitgevind dat ons baie van dieselfde storms trotseer het, en ek het aangetrokke geraak tot sy kalmte en aanvaarding – ten spyte van al die gemors wat ek saam met my in my bootjie gehad het. Dit is eers later, toe hy sy bootjie nader stuur aan myne en my nooi om al my gemors oor te laai en in sy bootjie te klim, dat ek agtergekom het ons was, in dieselfde waters, besig om in verskillende rigtings te stuur. Albei oppad na verskeie afgronde. Dit was egter opvallend hoe sigbaar die horison skielik geword het toe ek oorklim in sy bootjie. Hy het my, sonder oordeel en met onvoorwaardelike liefde, geneem na ‘n plek waar ek saans kon slaap sonder om deur enige checklist hoef te gaan. Waar ek wakker word soggens en my aandag fokus op hoe ek die oggend vir my gesin mooi kan maak. Hy het my geneem na ‘n bestemming waar ek nooit weer die woorde “Fifty-rand-unleaded” hoef te gebruik nie, en waar ek nooit weer voor ‘n yskas in Spar hoef te staan en moet besluit tussen ‘n 6-pack yoghurt of ‘n liter melk nie. En mettertyd het ek besef dat ek iewers aan die begin een van die spane geneem het en saam met hom begin roei het. Ek het besef dat ek iewers langs die water my gemors uit die boot gegooi het en dat ons ligter travel. Ek het later uitgevind dat die horison vir hom ook eers begin sigbaar word het nadat ek aan boord gekom het. En ek weet met vrede in my hart dat ons sáám besig is om daardie horison te bereik. Dat ons instaat is om enige stormwater deur te maak en liewer vir mekaar aan die ander kant gaan uitkom. Ons is saam besig om ons verlede agter te laat en ‘n toekoms te skep vir ons kinders, wie ons laat slaap deur al die lelike dinge, en wie ons sal wakker maak elke keer wanneer die storms bedaar. Want ons weet albei wat dit is om geblinddoek deur troebel waters te roei. Ons albei weet hoe dit voel om die Pauper te wees en nie die lig aan die einde van die tonnel te sien nie. En ons het onsself belowe dat ons ons kinders elke keer sal wakker maak eers wanneer ‘n storm verby is en die horison weer in sig is, sodat hulle nooit hoef te herstel van die trauma wat moeilike waters bring nie.


***


Jy het die sprokiesverhale vir my ‘n werklikheid gemaak. Jou eerste woorde toe ek in jou bootjie klim was: “Ons grawe saam boontoe”, en dit is elke dag ‘n voorreg om dit saam met jou te doen. In ons eenslaapkamerhuis het ons ‘n pragtige lewe geskep wat meer as genoeg is vir nou, wanneer ons saans in stilte mekaar kan vashou in die sagte lig van die staanlamp terwyl ons kyk na die memories in rame wat staan op kassies wat ons tweedehands opgetel het vir next to nothing. Ek verruil ons nederige begin vir geen weelde of royalty in die wêreld nie, want ek het alles by jou gevind waarna ek gesmag het wanneer ek een van daardie sprokies gekyk het – gemak, gemoedsrus en liefde.


En as ek só daarna kyk is ek die Hertogin en die Prince twee vóór!

Comments


bottom of page