top of page

Red Tape

Ek lewe die laaste paar weke soos iemand wat ly aan bomskok. Dit vat nie baie om my gemoed te trigger nie. Die pad vorentoe met JG was nog altyd vol uitdagings, maar die uitdagings was medies van aard. Dinge wat ‘n mamma-drukkie kan regmaak wanneer dinge vir hom te veel raak. Die pad vorentoe het egter drasties verander toe J.G. se chirurg ‘n paar weke gelede aanbeveel het dat ons sterk oorweeg om J.G. oorsee te stuur vir die operasie. Die nuus dat hierdie siekte hom elke dag meer en meer affekteer en dat hy nie baie tyd het nie was in daardie stadium nog té nuut om te prosesseer, en ek het ‘n dag of twee nodig gehad voor ek moes deal met die idee dat J.G. vir 'n paar maande nie by die huis sal wees nie.


Ons het egter as familie (ek, J.G. se pa, Johan en J.G. se stiefma) al die informasie tot ons beskikking oorweeg en tot die gesamentlike besluit gekom dat die beste roep vir J.G. sal wees om die behandeling oorsee te kry by wêreldklas spesialiste. Hy het die opsie – waarom hom dit ontneem?


Die dae wat gevolg het was chaoties! Van afsprake maak vir paspoort aansoeke sodat J.G. so gou as moontlik saam met sy Pa kan teruggaan Spanje toe, vêr ry om dit uitgevoer te kry, verdere informasie bekom oor moontlike ander benaderings tot die operasie wat sy tyd oorsee dalk gaan verleng, sukkel om kontak te maak met Binnelandse Sake – ek het myself gereeld gevang dat ek op die mees lukrake oomblike uitbars in trane en dan eers moes uitfigure hoekom ek huil. Meeste van my breakdowns was saans. Wanneer ek in die bed gelê het en kon hoor hoe J.G. asem haal, en my kop dan begin dwaal na die klomp maande wat voorlê wanneer ek hom nié gaan hoor nie. Wanneer ek nie ses-uur in die oggend hoef op te staan om broodjies te pak in Ben10 kosblikkies nie. Wanneer Pampers wetwipes nie meer die hele huis vol gaan lê nie. Wanneer ek nie meer half-vyf in die middag by die skoolhekke gaan instap en sien hoe daai pokkel-wangetjies na my toe aangehuppel kom met sy oorgroot skooltas wat hy op sy rug probeer balanseer nie. "Het julle ietsie vir my in die kar," vra hy opgewonde omdat ek onbewustelik jare terug reeds hierdie verwaging geskep het toe hy net enkele maande oud was en ek elke dag vir hom 'n klein verrassinkie gebring het wanneer ek hom by die creche gaan optel het. Elke dag. Presies dieselfde. Ek is bang vir die leemte. Ek is bang vir verlang. En dis toé dat ek besef – ons almal was die heeltyd so bekommerd oor J.G. se mediese toestand en wat medies die beste opsie is vir sy kondisie, dat niemand ooit die tyd geneem het om te oorweeg hoe die ontwrigting sy emosionele welstand gaan affekteer nie.


Ek het dadelik sy stiefma gekontak. Ek het my vrese met haar gedeel, ma-tot-ma, en ons het lank gesels oor die emosionele sy van die oorseeganery. Ek het voorgestel dat, aangesien J.G. toegang gaan hê tot onbeperkte mediese voordele, hulle hom dadelik by ‘n speelterapeut kry om die aanpassing makliker te maak. Ek het met haar gedeel dat my buitespeel-seuntjie sy maatjies gaan mis. Hulle moet hom sosialiseer. Sy het vir my fotos gestuur van speelparkies in hulle woonbuurt en my verseker dat kinders baie sosiaal is in die omgewing waar hulle woon. Hy en Pappa gaan trein ry en die bus vat. Sy het my gerus gestel en verseker dat hulle sal poog om die ondervinding vir J.G. soveel van 'n avontuur te maak as wat moontlik is. Sy het my bekommernisse verstaan. Ek voel nie minder bang vir die verlange nie, maar ek voel meer gerus dat J.G. nie getraumatiseer aan die ander kant van hierdie proses gaan uitstap nie. Daar is té veel mense wie hom té lief het. Tog - ‘n nuwe normaal in ‘n vreemde land waar hy nie die taal verstaan nie laat my maag draai. (Dalk is dit nou ‘n goeie tyd om Dora the Explorer te begin binge watch. "Can you say 'Abuela'?”)


Dinge raak nou baie vinnig baie real en die tyd raak baie min. Ek is die Here (alweer) só dankbaar dat ek Johan het om my hierdeur te ondersteun. Hy weet self wat dit verg om die besluit te neem om nie jou kinders by jou te kan hê nie, omdat dit, in die stadium, die beste is vir hulle. Hy weet hoe uitmergelend dit is om beperk te wees tot Whatsapp video calls en hoe dit voel asof iemand jou hart uit jou bors skeur wanneer hulle huil aan die ander kant van die skerm of jou nodig het, en jy magteloos is. Hy weet wat om te sê wanneer ek onseker is of bang word vir dit wat kom. Hy herinner my dat hierdie ding tydelik is. Dat dit net nog ‘n paadjie is wat ons moet stap om J.G. gesond by die huis te kry. Dat dit net ‘n druppel in die emmer van J.G. se lewe saam met ons is. En dan hou hy my vas en ek kry weer perspektief.


Ek en Johan gaan more vroeg J.G. se paspoort afhaal sodat ons die proses kan begin om sy Visa te kry, en as alles volgens plan verloop gaan hy gedurende April-maand reeds saam met sy pa terug Spanje toe sodat die gesondword proses kan begin.


Ek is nog onseker wat presies die proses daai kant behels, maar ons gaan begin deur hom te kry by spesialiste in Spanje / Italië se top neurologiese sentrums wie dan sal besluit watter benadering (en hospitaal) die beste opsie vir hom sal wees.


Vir nou is ek besig om die toestemmingsvorms te voltooi sodat J.G. die land sonder my mag verlaat. Dit is eenvoudige vorms, maar om een of ander rede neem dit langer as wat dit veronderstel is om te neem omdat ek vandag net nie my naam reg kan skryf nie. So ek gaan nou weer ‘n vorm uitprint. En weer probeer. Vir die vierde keer.


L-Y-N-E-….Hoe?



Hoe op dees aarde doen mens dit?


L

Comments


bottom of page