top of page

S.O.S

"Probeer onthou - Julle is daar omdat dit 'n plek is waar J.G. gaan beter word"


Johan het hierdie sin seker al drie dosyn keer vir my gesê die afgelope paar weke. Ek het elke keer my bes probeer om sin te maak daarvan, maar dit wou nie die angstigheid stilmaak nie. Die vorige keer was net té moeilik. Moeilik omdat dit my eerste ondervinding met 'n staatshospitaal was. Moeilik omdat ek nie geweet het wat J.G. se prognose gaan wees nie. Moeilik omdat ek skielik moes ophou werk en ek nie seker was wanneer ek voltyds sou kon terugkeer kantoor toe nie. Moeilik omdat J.G. nie met my kon kommunikeer nie. Moeilik omdat alles net té oorweldigend was.


Hierdie keer is alles egter anders. Ek weet ek is net vir drie dae weg van die kantoor. J.G. is blakend gesond. Ek was darem nou al een keer vantevore in 'n staatshospitaal. Ons weet wat J.G. se prognose is na afloop van 'n operasie.

Is dit makliker die keer? Beslis nie. Inteendeel.


Ek het heeldag gesit/-staan/rondgeloop en wonder, is ek besig om bederf op te tree? Gaan mense my stenig wanneer ek vent oor hoe moeilik ek dit vind? Is dit verkeerd om iets méér uitdagend te vind as gevolg van jou omgewing, omdat dieselfde uitdaging baie makliker sou wees in 'n ander omgewing? Is ek ondankbaar? Ons is juis hier omdat dit die enigste hospitaal in die land is waar JG die sorg kan kry en spesialiste kan sien wat nodig is vir die behandeling van sy toestand. Ons is hier omdat duisende personeellede daagliks dubbeld soveel ure insit vir geen vergoeding omdat mý kind hulle roeping is. Hoe ondankbaar is ek?!


Hoe durf ek mismoedig raak omdat iets soos koffie of tee nie hier vir moeg mammas aangebied word nie. Hoe durf ek my pose moet hou wanneer ek vir die suster vra vir die badprop, en sy vir my sê ek moet afdrooghanddoekpapier in die bad se uitlaatgleuf prop omdat die badproppe gesteel word. Hoe durf my geduld opraak met 'n seuntjie wat niks anders het om hom mee besig te hou as sy mamma, sy verbeelding en 'n paar kryte nie, wanneer ek vra of hy asseblief buite mag rondloop en hulle weier om hom uit die saal te laat. "Maar dis 'n kinderhospitaal! Waar speel die kinders?!" "Hulle moet maar rondom die bed hardloop, Mevrou. Hier is nie speelplek nie".


Miskien is ek bederf. Miskien is dit nie so vergesog om vir vyf ure met jou vyfjarige in die 3 x 4 wagkamer te sit en kraletjies rond te rol terwyl ons wag vir 'n bed omdat ons folder weggeraak het nie.

Miskien is ek bederf as ek vies raak oor my kind vir drie dae ingeboek is net om op die derde dag 'n paar scans te kry. "Ons moet sy geskiedenis by jou kry, Mevrou". Goed. Hoe lank gaan dit neem? 'n Halfuur? Kon die bed nie beter aangewend word vir iemand wie dit werklik nodig het nie? Wat maak ek met 'n hiperaktiewe seuntjie vir die res van twee dae in 'n hospitaal met geen televisie en geen wifi nie. Sies, Lynette. Jy's BEDERF!


Ek vra dus omverskoning as hierdie post enig iemand aanstoot gee. Dalk dink ek nie reguit nie. Dalk is ek net só moeg en só oorweldig. Dit is ons eerste aand weg van Johan - ek voel verwyderd van realiteit. Ek voel jammer vir J.G. wat more weer dieselfde vier episodes van Power Rangers moet kyk omdat dit al is wat op sy tablet afgelaai is. Ek is bang my verbeelding laat my in die steek wanneer hy verveeld raak en ek hom nie behoorlik kan stimuleer nie. Ek is bang ek is nie genoeg nie.


***


Met nabetragting kom my mismoedigheid moontlik uit 'n plek van mom-guilt. Ek wil die beste hê vir J.G. Nie net medies nie, maar vanuit 'n gemakspunt ook. En dan besef ek dat ek moontlik nie bederf of ondankbaar is nie. Net bitter bitter bevoorreg.


En vir die voorreg om die dinge te mag hê waarna ek nou so hard verlang, en vir elke wonderlike suster en spesialis by hierdie minder gemaklike hospitaal, is ek tóg bitter bitter dankbaar.


L

Comments


bottom of page