S T R A A T L I G M E N S E
Ek belowe nou al ‘n rukkie om ‘n tipe van ‘n tydlyn rakende J.G. se situasie te skets. En ek dink ek het heeltyd uitgestel omdat daar nie konkrete timestamps is nie. Niemand kan vir my se “dit vat presies drie-dae-en-sewe-en-twintig-uur om ‘n kaart te kry” of “die spesialis is met vakansie maar sal presies op so-en-so ‘n datum beskikbaar wees”. En dit het my frustreer. Kyk, moenie my verkeerd verstaan nie. Ons het moerse vordering gemaak in ‘n baie kort rukkie, maar dit voel net soms vir my asof die red tape nie ophou nie.
So ek het besluit om vandag bietjie met Tracey (J.G. se stiefma en die superhero agter al die red tape) te gesels sodat ek duidelikheid kon kry oor hóé rooi ons nou eintlik van praat. Ek kon die volgende wysraak:
J.G. het burgerskap. Dit is wel ‘n vereiste vir elke burger om geregistreer te wees by “Social Security” sodat jy ‘n “Social Security Health Card (SSHC)” kan kry. Hierdie kaart het jy nodig om toegang te hê tot die land se gesondheidsdienste, asook die skole. J.G. het more (28 Junie) sy burgerskap onderhoud, waarna hy ná 40 dae sy kaart behoort te ontvang.
J.G. se gesondheidsorg is genadiglik nie aangewese bloot tot die SSHC nie – Tracey het met sy aankoms in Spanje aansoek gedoen vir hom om op ‘n privaat mediese fonds te wees, waartoe hy reeds toegang het. Hierdie fonds, via haar werkgewer, gee J.G. toegang tot internasionale mediese dienste (dokters, spesialiste, hospitale) en het ook die voordeel van gesondheidsorg in Engels. Die staatsfonds stel ongelukkig net mediese sorg beskikbaar in Spaans, en ‘n mens sal dan ‘n tolk ook moet aanstel.
J.G. kan skool toe gaan sodra hy sy SSHC gekry het (die kaartjie), maar skole is in ieder geval nou toe vir die Somer tot en met September.
J.G. wag nou vir ‘n afspraak by ‘n Pedriatiese Neuroloog, en Tracey en Gerhard verwag om hierdie afspraak teen Vrydag (30 Junie) te kry, anders kan hulle opvolg. Besighede en praktyke is grotendeels nou toegemaak, aangesien Julie en Augustus in Spanje is soos Desember en Januarie in Suid Afrika.
Nádat hy die spesialis gesien het sal ons 'n beter idee hê van hoe en wanneer die operasie gebeur, maar voorbereiding vir die operasie behoort die volgende stap te wees.
Ek voel soveel meer gerus ná my gesprek met Tracey. Ek kan dalk net op hierdie punt stilstaan en noem dat ek werklik nie vir ‘n beter bonus-ma vir J.G. kon vra nie! Sy is baie hands-on en kyk baie mooi na hom! Ek is dankbaar vir Gerhard wie die rol van voltydse ouer ingeneem het terwyl Tracey werk, sodat daar heeldag iemand is wie na J.G. omsien. My hart is gerus in die wete dat J.G. by twee mense bly wie werklik sy behoeftes eerste plaas.
So daar het jy dit – bietjie van ‘n update. Ons kom ál nader aan ons mikpunt en ons bly bid en glo ons gaan alles betyds gedoen kry.
Soos ek van Tracey verstaan sukkel J.G. die laaste ruk met sy korttermyngeheue, en dit maak ons gesprekke soms bietjie uitdagend. Hy kan my nie meer antwoord as ek vir hom vra wat hy vir ontbyt geëet het, of wat hy vroeër die dag saam met Gerhard gedoen het nie. Gesprekke met hom is een dag op, een dag af – soms speel ons lekker, ander kere wil hy nie met my praat nie.
Verder gaan dit goed met ons, dankie. Ek huil minder (behalwe wanneer ek PMS of wanneer my Personal Trainer my martel of wanneer Bernice West se “Lyfie” speel en verlange na J.G. nie deur ‘n filter kom nie). Ek en Johan gooi onsself nou voltyds in oefen in en ons maak tyd vir dinge wat vir ons belangrik is.
Ons ander twee kinders kom vir ons kuier gedurende Julie-maand en ek is behoorlik ‘n bondeltjie opwinding – ek kannie wag om weer ‘n vol huis te hê nie!
***
Ek dink ek het alles aangeraak wat ek moes. Hierdie is maar ‘n baie op-die-punt-af plasing, maar ek het gereken ek spaar die drama en emosies (wat sal ek wees sonder dit?!) vir ‘n volgend een – ek wou net gou hier opspring vir ‘n bietjie van ‘n update vir die wie gevra het!
Dan wil ek sommer gou ook net dankie sê vir elkeen wie uitreik na my. Almal wie aanklank vind by my rantings en my emosionele uitbarstings en my epiphanies. Almal wie vra hoe dit gaan. Almal wie saam met ons bid.
Ons het nog ‘n lang pad om te stap, maar wanneer ek terugdraai sien ek twee dinge - Hoe lank die pad is wat ons reeds gestap het, asook elke liewe persoon wie sedert Oktober verlede jaar ‘n boodskap gestuur het, ‘n bak kos aangedra het, ‘n telefoonoproep gemaak het, drukkies gegee het. Julle gesigte vertoon soos plakkate teen straatligte langs die pad – elke liewe een só duidelik sigbaar.
En ek is dankbaar.
L
Comments