Shrapnel
Ek het triggers. Baie. Dis soos handgranate wat oor die jare deur verskeie mense in my lewe geplant is. My pa. Vorige verhoudings. Sommige vriendskappe selfs. Dinge wat veroorsaak dat die pennetjie uitgetrek word wanneer ek vandag myself in soortgelyke situasies bevind. Of op soortgelyke wyse behandel word.
Boom!
Maak seker jy maak tee/koffie die oomblik wanneer die ketel afskakel. Hy gaan jou name noem indien die tee/koffie koud is.
Jy mag nie vir hom sê hy het genoeg gedrink nie. Jy laat hom môre rus en jy maak seker jy is gereed om julle albei se verantwoordelikhede te dra.
Onthou om die hele oppervlak van die sny brood met margarine te smeer. As hy sien jy mis 'n hoekie gaan hy sy belt afhaal omdat jy geld mors.
Moenie👏glasware👏breek👏nie.
Maak seker jou been raak nie aan die gear lever nie. Hy gaan geïrriteerd raak indien jy in sy pad is.
Moenie te lank aangaan oor klein dingetjies wat vir jou mooi is nie. Jy soek aandag en is melodramaties.
Jy.mag.niks.vergeet.nie. Hy raak lelik wanneer hy dinge mis omdat jy vergeet het om hom te herinner.
Jy gaan nooit die vleis reg spice nie. Jy gaan steeds altyd gevra word om dit te doen.
J.G. is 'n ongerief. Stort vinnig.
Moenie hare droog blaas terwyl hy TV kyk nie.
Moenie vra vir toenadering of enige vorm van liefde nie. Hy gaan jou wegstoot sonder om op te kyk van waarmee hy besig is.
Anticipate al sy behoeftes. En anticipate hoe om te kompenseer indien jy een nie sien kom het nie. Hy het reeds besluit jy gaan iewers iets mis, sodat hy jou onnosel kan noem.
Hy gaan mislik wees wanneer hy wakker word. Geïrriteerd. Die res van die dag is 'n write off die oomblik wanneer hy besluit om 'n middagslapie te vat. En dit gaan jou skuld wees.
***
Hy kom uit die kamer met kussing-plooie op sy wang, effens gedisoriënteer en ons oë ontmoet. Dis hier waar my maag nou moet draai. Maar sy oë word sag en ekstra plooitjies vorm om sy mondhoeke terwyl hy afbuk om my te soen. "Ek is lief vir jou". Ek is veilig.
Vroëer toe ek vir die soveelste keer die kinders stilmaak omdat hy slaap, maak hy mý stil. Los die kinders, beduie hy. Dit is nie jou plig om 'n stil huis te verseker nie. Ek is veilig.
Daai keer, toe ek hardloop vir die ketel wat kook omdat ek gou besig was om my hande in die badkamer te was, en hy reeds besig was om die koffie te maak. Ek is jammer, wil ek sê, toe hy my voorspring. "Ek het sommer vir jou ook gemaak. Dit lyk of jy kan doen met 'n koppie". Ek is veilig.
Dit was al baie laat die aand van ons eerste groot kuier toe ek my oë toeknyp en vir hom water aandra omdat ons môre 'n besige dag met die kinders gaan hê.
Ek gaan hulp nodig hê, maar hoe durf ek insinueer hy moet ophou drink, dink ek angstig.
Hy het die water geneem. "I got you," het hy gesê. En hy het. Elke liewe keer. Ek is veilig.
"Jy maak die beste braaibroodjies," sê hy terwyl hy langs my staan en ek opmerk hoe ek 'n paar hoekies met die margarine gemis het. Geen pakslae. Ek is veilig.
"Het jy seergekry? Staan stil, jy is kaalvoet. Ek gaan gou die glasstukke opvee dan help ek jou om 'n nuwe dop te gooi". Nie 'n enkele neerhalende woord nie. Ek is veilig.
"Jou been is nie in my pad nie. Jy is nie in my pad nie." Ek is veilig.
"Jou mooiste eienskap is hoe die lelik van die wêreld jou nog nie afgestomp het nie. Jy sien die mooi in alles raak. Dit is skaars" Ek is veilig.
"Ek moes ook onthou het. Jy het baie hooi op jou vurk. Ons sort dit uit" Ek is veilig.
"Vat jou tyd. Sit 'n gesig masker op. Scroll deur jou foon. Ek en J.G. gaan tuinmaak. Ja, ek is seker. Hy is nie vir my 'n ongerief nie." Ek is veilig.
"Liefde is 'n basiese behoefte soos eet en slaap. Enig iemand wat jou laat sleg voel omdat jy daarvoor gevra het is verkeerd. Kom na my as jy dit nodig het." Ek is veilig.
"Dankie dat jy so mooi na my kyk. Ek is hier vir jou. Wat het jy nodig?" Ek is veilig.
"Dankie dat jy ons huisie so mooi bestuur. Jy is 'n amazing vrou en die beste Mamma vir J.G." Ek is veilig.
Jy het die wysheid om die handgranate te erken wanneer hulle sigbaar word en jy het die opsie om die pennetjies uit te trek. Maar jy doen nie. Jy neem elke liewe handgranaat met die grootste sorg by my oor en deaktiveer hulle een na die ander.
My ore suis nie meer nie. My hart is nie meer deurtrek met shrapnel nie.
Die oorlog is verby.
L
Comments