Valentine's Eve
Al wat oorgebly het van ‘n baie onbeplande Valentine’s Eve (ek kan dit seker maar so noem, as mens die 24ste Desember “Christmas Eve” noem?) - Leë tea candle doppies, gevlekte counter tops, ‘n verminkte kurkprop (want ons konnie elf-uur in die donker die botteloopmaker opspoor nie), en glase oortrek met lip- en vingermerke – soortgelyk aan dié wat ons op mekaar gelos het...
Ek het Valentynsdag nog altyd met groot opgewondenheid ingewag. Of ek enkellopend was of nie. Ek het gehou van hoe “anders” die lug gevoel het. Amper elektries. Vol verwagting. Ek hou van hoe anders mense se gemoed is. Soos op die laaste dag van skool wanneer jy civies mag aantrek en weet daar gaan net partytjie gehou word in die klas. Ek het my ook nog nooit gesteur aan die siniste nie. Die mens-is-veronderstel-om-elke-dag-van-die-jaar-lief-te-wees-vir-jou-vrou-nie-net-een-dag-van-die-jaar-nie-mense.
En ek stem saam. Maar mens is ook elke dag trots op sy erfenis, en tog sit ons een dag uit om dit behoorlik te vier. Mens is elke dag dankbaar vir sy pa of sy ma, maar tog sit ons een dag uit om hulle behoorlik te vier. Net so is Valentynsdag in my opinie ‘n dag wanneer ons dít wat ons elke dag vir mekaar voel kan celebrate en spesifieke erkenning kan gee. Dit is net ‘n bonus dat mens ook op hierdie dag ‘n verskoning het om bietjie meer openlik pathetically verlief te wees, en die mense rondom jou moet dan maar hulle naar vir een dag probeer wegsteek.
Ons Valentynsdag hierdie jaar lyk natuurlik bietjie anders as gewoonlik. Die romantiese ete wat hy beplan gaan voorgesit word in twee baie mooi wit porselein borde, sowel as een ekstra blou plastiekbordjie met een of ander cartoon tema op. Die bottel wyn wat ons gaan oopmaak gaan op die toonbank staan langs ‘n sippy cup met Coke Zero (want ons hoop ons kleinste kruip lekker vroeg in vannaand), en staar-in-mekaar-se-oë gaan waarskynlik onderbreek word deur een miljoen vrae oor hoekom ‘n boom nie in die aand gaan plat lê wanneer hy slaap nie.
So wanneer ons op Valentines Eve met Stage 3 Loadshedding (en ons kleinste wat slaap) besluit ons twee gaan nog nie slaap nie, maar eerder wyn drink tot die krag om middernag aankom, is ‘n Dinner-for-Two vir drie op Valentynsdag eintlik niks minder as perfek nie. Want vir twee ure op die aand voor Die Dag kon ons, sonder om onderbreek te word, in mekaar se oë kyk, huil oor hartseer nuus wat hy deur die dag ontvang het, mekaar soen asof ons mekaar nou eers leer ken, gesels oor hoe kosbaar tyd is en alles deel van ons gunstelling vakke op Universiteit tot godsdiens en geloofsoortuiging, terwyl ons saam droom oor die toekoms.
En so, terwyl die kerse besig was om uit te brand en die bottel nie kon byhou met ons nie, het ek opnuut besef - alles saam met jou lê elke liewe dag op die derde trap van vergelyking.
En Valentines Eve was geen uitsondering.
L
Comments