top of page

Winterson

Daar is baie dinge wat my gelukkig maak. Simpel dinge. Corny dinge. Die geluid van ons skottelgoedwasser na sewe in die aand terwyl die huis ruik soos Handy Andy en koffie. ‘n Email notification van Superbru wat my herinner dat dit naweek is. Wanneer ek onverwags verby wilde sonneblomme ry en amper my nek afruk om net wéér te kyk. Is dit ‘n skaars blom, of is ek net onoplettend?


Maar daar is een iets wat elke keer die vermoë het om elke sintuig in my lyf te aktiveer en al my happy hormones in oorvloed vry te stel. Ek praat van daardie doodstil wintersoggende voor agtuur wanneer die son skyn en mens die nuut van die dag in die lug kan ruik. Daar is vir my niks in hierdie wêreld so skoon en stil en vol hoopvolle afwagting soos daardie oomblik nie. Dit is ‘n oomblik wat nie onderbreek word nie. Dit hou nie lank nie, maar wanneer jy gelukkig genoeg is om op ‘n oggend op presies die regte tyd by die huis uit te stap, kan jy dit nie ontduik nie. Jy stop onwillekeurig in jou spore, maak jou oë toe, trek jou asem skerp in en laat elke aspek van daardie winteroggend-son toe om oor jou te spoel jou sintuie oor te neem. Dit is in daardie paar sekondes wanneer ek op my heel gelukkigste is.


Ek onthou toe ek en Johan net begin uitgaan het, het die ekstra bed waarin ek geslaap het ‘n staalraam gehad met die mooiste druiwe-motiewe op. Ek het saans gereeld daarna gelê en staar wanneer ek nie aan die slaap kon raak nie en dit het vir my simbolies aan “huis” geword. Wanneer ek ná ‘n lang week kom kuier en my sak in die kamer gaan neersit het, was die druiwe-motiewe op die bed se staalraam die eerste ding wat altyd my oog gevang het, terwyl die bekende reuk van die kamer my groet. Welkom; jy is waar jy moet wees.


Ek vang gereeld myself ingedagte oor die absolute kontras tussen my lewe nou en my lewe so bietjie meer as ‘n jaar terug. Jy weet wanneer jy iets spesifiek ruik of ‘n sekere liedjie hoor, hoe dit jou sonder waarskuwing terug ruk na ‘n tyd in jou lewe baie lank terug? My kop werk andersom. Ek kan myself terug plaas in ‘n sekere tyd van my lewe, en presies onthou hoe dinge geruik het of watter geluide rondom my was. Ek onthou hoe my vel gevoel het en wat my geestestoestand in daardie oomblik was. My kop is verder ook soos een van daai outydse televisies met ‘n knoppie wat mens kon draai om die helderheid van die skerm te stel. Deesdae kan ek dit seker vergelyk met die bar op mens se foon wat jou brightness beheer. Wanneer ek terug dink aan enige oomblik in my lewe vóór Johan is dit net die dowwe beelde wat opduik. Dit is gewoonlik herinneringe aan ‘n donker kamer waar JG sukkel om te slaap omdat hy siek is. Of die grasperk in die kompleks waar ons gebly het wat nie genoeg son gekry het nie as gevolg van die hoë mure of die baie verdiepings. Die prentjies is dowwer. Die gevoel is een van sukkel. Een van survive. Een van hartseer.


Maar ek dwel nie te lank hier voor ek myself terugplaas in die hede nie. En wanneer ek dan myself herinner dat ek nie meer is waar ek ‘n jaar terug was nie plaas my kop my elke keer, sonder versuim, op presies dieselfde plek. Soos ‘n last saved check point in ‘n TV game. Die prentjie wat opduik wanneer ek dink aan my lewe nou, of wanneer ek die naam "Wellington" hoor is een waar ek staan met my arms oop en my oë toe voor ons huisie op 'n stil, perfekte wintersoggend terwyl die son op my vel skyn. En dan, asof ek werklik myself in die winterson bevind, word elkeen van my sintuie geaktiveer sodat ek Johan se bekende baardolie ruik wanneer hy sy kop draai om my voorkop te soen, en ek die patroontjies op sy gunsteling trui se mou onder my vingers kan voel. En ek die skottelgoedwasser hoor wat werk sodat ek rustig op sy skoot kan lê terwyl ek kyk na die diefwering op ons sitkamervensters wat met dieselfde druiwe-motiewe versier is as diè wat op my bed was.

Comments


bottom of page